Hoe Welstand jou kan help

Wanneer die lewe jou stief behandel – tuis of by die werk – is NWU Welstand daar om jou met sy werknemerwelstandsprogram te ondersteun.

eish! het die senior gesondheid- en welstandspesialis Bonita Maboeta gevra om ons meer te vertel oor die professionele ondersteuning wat beskikbaar is.

 

V: Wie is die maatskappy agter hierdie ondersteuningsprogram?

A: Die maatskappy Life Employee Health Solutions (Life EHS) is die dryfkrag agter ons program.

 

V: Watter soort hulp is beskikbaar?

A: Professionele advies en ondersteuning is in drie hoofkategorieë beskikbaar:

  • Psigososiale en gesondheidsake
  • Finansies
  • Regskwessies

 

(Klik op die oranje reghoeke heel bo vir meer inligting oor die spesifieke dienste wat verskaf word.)

 

V: Wat maak hierdie program spesiaal?

A: Dit is gratis, heeltemal vertroulik, en wanneer jy in ’n krisis verkeer, kan jy dag of nag, sewe dae per week, die Sorgsentrum bel en in jou voorkeurtaal gehelp word. Die tolvrye nommer (gratis as jy vanaf ’n landlyn bel) is 0800 213 149.

 

Jy kan ook verseker wees dat alle konsultante en raadgewers die geskikte kwalifikasies en ervaring het, en waar nodig, toepaslik by hul statutêre rade gelisensieer en geregistreer is.

 

Wat meer is, die bystand is ook vir jou afhanklikes beskikbaar.

 

V: Hoe maak ek van hierdie diens gebruik?

A: Jy kan enigeen van die volgende metodes gebruik:

  • In ’n krisis kan jy die 24-uur-tolvrye nommer (0800 213 149) skakel.
  • In ander gevalle, SMS enige tyd jou naam (teen R1,50 per SMS) na 31581, en die Sorgsentrum sal jou terugskakel.
  • Jy kan ook ’n e-pos aan NWU@lifehealthcare.co.za stuur om deur middel van e-pos berading te ontvang.
  • Nog ’n handige aanlyn hulpmiddel is ’n app wat jy op jou selfoon kan aflaai om ’n afspraak te reël. (Gaan na die Google Play Store of die Apple Store, soek Life EHS en volg die aanwysings.)

 

V: Wat gebeur as ’n psigososiale probleem nie oor die foon opgelos kan word nie?

A: ’n Berader sal jou kontak om by ’n terapeut in jou tuisdorp ’n afspraak vir ’n een-tot-een-sessie te maak. Dit is ook vir jou afhanklikes beskikbaar. Jou kind kan byvoorbeeld ’n terapeut spreek in die dorp of stad waar hulle woon.

 

V: Gaan julle vir my werkgewer sê ek het raad of berading gevra?

A: Beslis nie. Die gebruik van ons program sal nie jou werksekuriteit of geleentheid vir bevordering in gedrang bring nie. Al ons konsultante volg ’n streng etiekkode om die identiteit te beskerm van elke persoon wat die diens gebruik.

 

V: Het jy vir ons ’n laaste opmerking?

A: Ons moes al almal op een of ander stadium in ons lewens moeilike persoonlike of werkverwante kwessies hanteer. Voordat jy jouself in ’n onhanteerbare situasie bevind, soek professionele ondersteuning. Ons is hier vir jou.

 

FOKUS OP