Die talle kragte en wonders van

BOME

Mense het deur die eeue bome vanuit verskillende oogpunte beskou. Sommige perspektiewe was op fiksie gegrond en met wonders en mites gevul, terwyl ander op feite staatgemaak het en stewig in die wetenskap gewortel was.

 

Net so beskou mense die voordele wat bome inhou ook verskillend. Vir sommige mense het bome spirituele magte en vir ander is woude die bron van emosionele en sielkundige heling.

 

Die Japannese praktyk van ’n “woudbad” het byvoorbeeld regoor die wêreld ’n gewilde ekoterapie geword. Hulle sê wanneer jy tussen bome ontspan, verlaag jou bloeddruk en word die “veg-of-vlug-” simpatiese stelsel onderdruk.

 

Prof Stefan Siebert van Plantkunde stem saam. “Navorsing het getoon dat om tussen bome te stap ’n kalmerende invloed het – dit is veral goed om stresvlakke en ’n mens se hartklop te verlaag.

 

Wat ons planeet en ons toekoms betref, is daar geen twyfel dat ons heil in bome lê nie.

 

Plant bome vir beter lewensomstandighede

 

Stefan sê bome speel ’n baie belangrike rol om aardverwarming teë te werk omdat hulle koolstofdioksied absorbeer en stoor. Hulle produseer ook geweldige hoeveelhede suurstof, stabiliseer die grond en is ’n bron van lewe vir ’n verskeidenheid organismes.

 

Hulle verskaf skuiling en is ’n bron van voedsel vir uiteenlopende gemeenskappe voëls, insekte, mosse, ligene en swamme. Eikebome, soos dié in die strate van Potchefstroom, kan tot 500 verskillende spesies huisves, sê Stefan.

 

“Dit is veral in ons dorpe en stede met hoë vlakke van besoedeling en min oop ruimtes, waar bome ’n belangrike rol in mense se fisieke en geestesgesondheid speel.”

 

Hy verduidelik dat bome se blaardakke as ’n filter werk om stof en besoedelstowwe in die lug te filtreer.

“Dit verskaf ook skaduwee en skep ’n koel mikroklimaat. Die blaardakke verminder ook geraasbesoedeling.”

 

Sommige bome op die NWU se boomroetes, soos die Gingko (maidenhair tree), het ook medisinale waarde. Dit is bekend dat blaarekstrakte van hierdie boom breinfunksie en bloedvloei by mense bevorder.

 

Stefan wys daarop dat mensgemaakte woude in stedelike gebiede al hoe gewilder word as opvoedkundige bron.

 

“Daar sal spoedig meer mense in stede woon as op die platteland, en dit raak al hoe noodsaakliker om die belangrike rol te verstaan wat bome in die omgewing speel,” sê hy.

 

Of jy met jou hart spirituele troos tussen bome vind, en of met jou denke die wetenskaplike waarde daarvan waardeer, ons behoort almal bome te koester. Of jy hulle deur die bril van feit of fiksie beskou, ons het almal hierdie waardevolle reuse in ons lewe nodig.

As jy van ver af kyk, staan die blaarryke reus roerloos. Dis eers wanneer jy sy skaduwee betree, aan sy growwe bas raak en die voëlgesang tussen die songespikkelde blare hoor dat jy besef die boom is vol klank en beweging.

Prof Stefan Siebert van Plantkunde wys daarop dat dit belangrik is om bome te plant in die ekostelsels waar hulle hoort, byvoorbeeld in inheemse woude of bosveldomgewings. Jy kan ook bome in stedelike gebiede plant om te help om besoedeling te bekamp.

 

Om bome in oop stelsels soos grasvelde of fynbosgebiede te plant, is egter nie ’n goeie idee nie, aangesien dit die delikate balans van die ekostelsel sal versteur en sal veroorsaak dat die dierespesies wat daar woon, skade ly.

 

Kweek hoop deur 20 miljoen bome in 20 jaar te plant

 

Twee mense, een organisasie, 20 jaar en twee miljoen bome. Dit is die woorde en getalle wat die aangrypende verhaal van die Brasiliaanse fotograaf Sebastião Salgado en sy vrou, Lélia Deluiz Wanick Salgado, vertel.

 

Sebastião was as fotojoernalis in Rwanda gestasioneer om oor die Rwandese volksmoord verslag te doen.

 

Toe hy in 1994 teruggekeer het Brasilië toe, het Sebastião bevind dat slegs 0,5% van die gebied wat vroeër met reënwoude bedek was, steeds gestaan het. Dit is toe dat die paartjie besluit het om die woud weer te beplant.

 

Twintig jaar later het Instituto Terra, die klein organisasie wat hulle gestig het, reeds miljoene klein boompies geplant, en ’n belegging in hoop vir ’n volhoubare toekoms vir die mens op hierdie planeet gemaak.

 

Bron: boredpanda