Eerste ontvanger is in die Middeleeue vereer

 

Daar word gesê die praktyk om eregrade toe te ken, dateer terug na die Middeleeue, toe die eerste eregraad op rekord in die laat 1470’s deur die Universiteit van Oxford aan Lionel Woodville toegeken is.

 

Hulle het hulself aan die diens van ander gewy en dit is een van die redes waarom die NWU onlangs eredoktorsgrade aan regter Bess Nkabinde en dr Geraldine Fraser-Moleketi toegeken het.

As ons na die lewens van hierdie twee nuwe “doktore in die NWU-huis” kyk, dink ’n mens aan een van Mahatma Gandhi se gesegdes, wat lui: “Die beste manier om jouself te vind, is om jouself in diens van ander te verloor.”

 

Dit is presies wat die NWU se twee jongste ontvangers van eredoktorsgrade gedoen het. Regter Bess Nkabinde, wat haar eredoktorsgraad op 21Oktober 2021 ontvang het, het ’n buitengewone bydrae tot die regsberoep en tot maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika gelewer.

 

Dr Fraser-Moleketi is vir haar lewenslange werk in die samelewing en in die Suid-Afrikaanse politieke landskap vereer. Sy het haar graad op 19 November 2021 ontvang.

 

Rolmodel en regsgeleerde van formaat

 

NWU-alumnus regter Nkabinde is benoem deur die Fakulteit Regte, met wie sy noue bande het. Sy is nie net vir haar noemenswaardige bydrae tot ons land se regswetenskap benoem nie, maar ook omdat sy plaaslik en internasionaal ’n rolmodel vir baie mense is, veral vir vroue in die regsberoep.

 

Sy is in Januarie 2006 as regter van die Konstitusionele Hof aangestel. Sy het deur die jare gedien as waarnemende adjunkhoofregter en later as waarnemende hoofregter van die Republiek van Suid-Afrika, asook as waarnemende appèlregter in die Hooggeregshof van Namibië.

 

Regter Nkabinde is ook geen vreemdeling in die akademie nie. Sy het ’n BProc van die Universiteit van Zululand en ’n LLB van die Universiteit van Noordwes, en het al referate by nasionale en internasionale instellings gelewer. Sy het ook ’n inleidende kursus in Suid-Afrikaanse grondwetlike regswetenskap vir nagraadse studente by die Maryland Law School in die Verenigde State aangebied.

 

Maak die wêreld ’n beter plek

 

Dr Geraldine Fraser-Moleketi is deur die Fakulteit Geesteswetenskappe vir ’n eredoktorsgraad benoem.

Sy is ’n sterk voorstander van maatskaplike en ekonomiese transformasie in Suid-Afrika en Afrika en het ’n betekenisvolle rol gespeel in die veelparty-onderhandelings van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA), wat Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie tot stand laat kom het.

 

Terwyl sy van 1999 tot 2008 as Minister van Staatsdiens en Administrasie gedien het, was een van haar prestasies die instelling van die kindertoelae. Sy het ook die idee van gemeenskapsontwikkelingswerkers bekendgestel as ’n poging om die gaping tussen die regering en benadeelde gemeenskappe te oorbrug.

 

Sy het ’n meestersgraad in administrasie van die Universiteit van Pretoria, en het ’n kwalifikasie in leierskap vir organisatoriese verandering by die Wharton-besigheidskool by die Universiteit van Pennsilvanië voltooi. Sy het ook ’n DPhil Honoris Causa van die Nelson Mandela Universiteit ontvang.

 

Hierdie twee voorbeelde – die een as bekende rolmodel in die regswêreld en die ander een wat die lewe van kwesbare mense verbeter – beklemtoon die wyse woorde van Mahatma Gandhi. Dit wil voorkom of jy inderdaad jou werklike doel bereik – en jouself vind – as jy as leier in die diens van ander jouself verloor.

Hoe ken die NWU eregrade toe?

 

Die NWU het ’n beleid om ’n billike en deursigtige proses vir die benoeming van kandidate te verseker.

 

Jy kan in hierdie  beleid meer lees oor die kategorieë waarin ontvangers buitengewone verdienste moet toon, oor die benoemingsproses en die rol van die eretoekenningskomitee, die Senaat en die NWU-Raad tydens die proses.

 

Hier is ’n paar interessante feite uit die beleid:

 

  • Aktiewe werknemers en donateurs – waar die indruk geskep kan word dat die toekenning daarop gemik is om finansiële bydraes aan die universiteit te verseker – word nie vir eredoktorsgrade oorweeg nie.
  • Eredoktorsgrade is gewoonlik tot een per jaar per fakulteit beperk.
  • Die uitvoerende dekaan van die fakulteit van wie die benoeming ontvang is, woon die vergadering van die eretoekenningskomitee by om die benoeming voor te lê.
  • In die lig van die buitengewone merieteverdienste, kan daar jare wees waarin geen toekennings gemaak word nie.

 

 

Eregrade-beleid

in die NWU-huis

(ERE) DOKTORE

Daar is twee nuwe