As jy daarvoor kan lag, kan jy daarmee saamleef

Helei

In hierdie laaste artikel vir die jaar van ons lighartige reeks waarin ons mekaar beter leer ken, het eish! met Helei Jooste van die Vanderbijlparkkampus gepraat.

Helei Jooste is al vir die afgelope 25 jaar deel van die NWU-familie. Toe sy gevra is wat sy die meeste van haar daaglikse take geniet, het sy gesê: “Ek hou van die uitdagende deel van my werk, om nuwe dinge te leer en slimmer maniere te kry om te werk.”

eish! bedank al die personeellede wat brokkies van hulleself met ons gedeel het. Ons sal volgende jaar voortgaan om personeellede regoor die drie kampusse se stories te vertel. Wees op die uitkyk vir die eerste uitgawe in 2022.

Helei, die persoonlike assistent vir prof Herman van der Merwe, die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe se adjunkdekaan vir onderrig en leer, is al vir meer as twee dekades deel van die pers span.

 

In hierdie artikel vertel sy ons ’n bietjie meer van haarself en haar agtergrond.

 

Hoe lank is jy al by die NWU?

Ek het in 1996 as tydelike administratiewe assistent by die NWU begin werk en het in 2000 ’n permanente administratiewe assistent geword.

 

Hoe het jy in die hoëronderwyssektor beland?

Toe ek grootgeword het, wou ek baie graag ’n maatskaplike werker word, maar my ma het gesê ek sal te veel huil, en toe moes ek maar aan ’n ander loopbaan dink.

 

Ek en my man, Petri, het in 1995 Vanderbijlpark toe getrek. Hy is ’n pos as junior lektor op die NWU se Vanderbijlparkkampus aangebied. Een van die personeellede by administrasie in die wiskundevakgroep het afgetree en ek is tydelik daar aangestel, en die res is geskiedenis.

 

Waar het jy grootgeword?

Ek het in Brits naby Pretoria grootgeword en baie water uit die Hartbeespoortdam gedrink.

 

Wat is jou aangenaamste herinnering uit jou kinderjare?

Besoeke aan my grootouers op hulle plaas in Jan Kempdorp amper elke Kersfees totdat hulle oorlede is toe ek agt jaar oud was. Ek dink baie aan die dae toe ek saam met plaaswerkers se kinders sokker gespeel het, en Kersdag onder die bome gesit en waatlemoen eet het.

 

Wat is die waardevolste les wat jy sedert jou kinderjare met jou saamdra?

My pa is ’n baie wyse man; hy het my baie waardevolle lesse geleer. Die waardevolste was om Jesus Christus as my Saligmaker aan te neem. Nog ’n les wat my bybly, is om nie die lewe te ernstig op te neem nie, dinge meer te geniet, meer te lag en net myself te wees.

 

Wat of wie motiveer jou en maak jou gelukkig?

Ek word gemotiveer deur die manier waarop Moeder Teresa haar lewe aan Christus gewy en die armes gehelp het. Wanneer my kinders, familie en vriende gelukkig is, is ek ook gelukkig.

 

Wat doen jy in jou vrye tyd?

In my vrye tyd lees ek graag boeke of bring tyd saam met my familie en vriende deur.

 

Wat is jou gunstelingliedjie van alle tye?

Ek het ’n paar gunstelinge, maar as ek moet kies, sal dit Blessings deur Laura Story wees.

 

Waar sien jy jouself in die volgende paar jaar?

Covid-19 het my uitkyk op die lewe verander. Ek leef die lewe nou voluit en neem dit dag vir dag.

 

Waarvoor wil jy graag onthou word?

Ek wil graag onthou word as iemand wat vir mense omgegee het, medelydend was en ander gehelp het.

 

Hoe lank is jy al getroud en hoeveel kinders het julle?

Ek en Petri is 29 jaar getroud. Dit is langer as wat ek op my eie was! Ons is geseën met drie dogters, Dané, die oudste, en die tweeling, Bernice en Beuhla, wat minute ná mekaar gebore is.

 

Watter raad sal jy gee aan diegene wat jou as rolmodel sien?

Ek lees die volgende in die boek, The Way of Wisdom – Inspiring Stories and Poetry from Around the World: “Gee ruim weg van dit wat jy kan vind, en dit beteken nie slegs materiële besittings nie. As jy gelukkig is, glimlag, as jy ’n berg uitgeklim het, neem ander met jou saam sodat hulle ook die uitsig kan geniet.

 

“Onthou altyd, as jy daarvoor kan lag, kan jy daarmee saamleef. Tye sal ongetwyfeld moeilik wees, en wanneer die wêreld sê ‘Gee moed op,’ fluister Hoop vir jou, ‘Probeer nog ’n keer.’ Moet nooit, ooit opgee nie.”

eish! het vir Helei gevra om haarself met drie woorde te beskryf. Klik op die sirkels om haar antwoorde te lees.

Een van Helei Jooste se gunstelingherinneringe aan haar kinderdae is toe sy saam met plaaswerkers se kinders sokker gespeel het, en onder die bome gesit en waatlemoen eet het.