Vir die NWU se para-swemmer Cornelle Leach is 2019 ’n goue jaar, aangesien sy in elke kompetisie waaraan sy deelgeneem het, haar persoonlike tye verbeter het.
Sy het pas teruggekeer van die 2019 Allianz Wêreld Para-swemkampioenskap in Londen, waar sy drie Suid-Afrikaanse en Afrika-rekords verbeter het. Voor dit het sy onder die toptien swemmers in die Sasol Winter Swemkampioenskap geëindig.
“Dit is beslis my jaar,” sê Cornelle (20), ’n tweedejaar-BCom Toerisme-student. Dit was egter vir ’n rukkie hoogs onseker of sy kon gaan, aangesien ’n administratiewe fout ingesluip het en sy nie betyds geregistreer was om aan die kampioenskap in Londen deel te neem nie.
“Ek was so teleurgesteld en het gevra hoe ek die fout kon regstel. ’n Week later het ek ’n e-pos ontvang wat my meegedeel het dat ek by die span ingesluit is, en Londen toe kon gaan!”
Cornelle en haar gidshond
Cornelle en haar gidshond, Vogue, is ’n bekende gesig op die kampus in Potchefstroom. Hoewel haar vierbenige maat slegs die afgelope agt maande deel van haar lewe is, kan sy haar nie ’n lewe sonder haar gidshond indink nie.
Toe sy vir Vogue in Februarie gekry het, was dit ’n groot aanpassing. “Aangesien ek op daardie stadium nog ’n bietjie kon sien, was dit moeilik om haar heeltemal te vertrou wanneer ons iewers moes gaan. Maar ons het aan mekaar gewoond geraak en ek vertrou haar nou met my lewe,” sê Cornelle.
Grootwordjare
Cornelle is op negejarige ouderdom met Stargardt-siekte, ’n genetiese siekte van die retina, gediagnoseer. Die siekte veroorsaak ’n geleidelike verlies aan sig gedurende die kinderjare.
Sy het in Lydenburg grootgeword en was in ’n privaat skool, waar sy in een klaskamer kon bly by ’n lessenaar met al haar leerhulpmiddels. Haar sig het in graad 11 en 12 drasties agteruitgegaan, en daarom het sy haar skoolloopbaan by die Prinshof-skool vir visueel-gestremde leerders in Pretoria voltooi.
Soos ’n vis in die water
“Ek was in graad 5 toe ek swem as sport begin beoefen het.
“Ek het besef dat ek nie langer aan spansport kon deelneem nie, aangesien ek nie die bal in netbal en hokkie kon sien nie, selfs nie wanneer die onderwysers dinge makliker probeer maak het met ’n neonbal en neonhempies nie,” verduidelik sy.
In haar matriekjaar het sy vir die wêreldkampioenskappe in Berlyn gekwalifiseer, maar kon nie gaan nie omdat sy nie geregistreer was nie.
“Dit was so moeilik. Ek het ses maande lank alles opgeoffer om te kwalifiseer. Ek het vieruur soggens opgestaan en ná middernag gaan slaap. En toe ek hoor dat ek gekwalifiseer het, maar nie kon gaan nie, was my hart gebreek,” sê sy.
Cornell het ’n paar maande lank ophou swem om op haar akademiese werk te fokus, maar erken dat sy baie moedeloos was. Sy het eers weer as eerstejaarstudent by die NWU begin swem.
Hou kop bo water
Om nie te kan lees nie, is waarskynlik vir Cornelle die grootste frustrasie. Haar handboeke moet almal in oudioformaat wees, en as dit nie geredelik beskikbaar is nie, moet dit spesiaal opgeneem word.
Om inkopies te doen is moeilik, aangesien sy nie die inligting op die etikette of nuwe produkte wat sy wil uittoets, kan lees nie. “Ek moet altyd iemand saam met my winkel toe neem, wat soms ’n uitdaging kan wees.”
Maar Cornelle weet dat uitdagings daar is om oorkom te word, en daarom maak sy altyd ’n plan. Sy werk nou eers aan haar droom om die water by die 2020 Paralimpiese Spele aan te durf.
Para-swemmer Cornelle Leach laat nie toe dat struikelblokke in haar pad staan nie, en sy is vasbeslote om vir die Paralimpiese Spele in 2020 te kwalifiseer.
In die video voer die sportredakteur Ettienne van Rensburg van Vaalweekblad ’n onderhoud met Cornelle Leach, wat onder die toptien swemmers in die Sasol Winter Swemkampioenskap geëindig het. Sedert die video opgeneem is, is die administratiewe fout waarna sy verwys, uitgesorteer, en is sy gelukkig toegelaat om aan die kampioenskap in Londen deel te neem.
Geen troebel water meer vir para-swemmer Cornelle nie