Die bestuur van ons fasiliteite behels meer as bakstene en sement

Thabani Mhlongo, die nuwe hoofdirekteur vir fasiliteite, het ’n MSc-graad in ingenieursbestuur van die Universiteit van Pretoria, asook ’n meestersgraad in sakebestuur en nog een in publieke administrasie, albei van die Universiteit Stellenbosch.

Met meer as 24 jaar ervaring in die bou-omgewing bring Thabani Mhlongo bedryfs- en strategiese benaderings na sy nuwe pos as hoofdirekteur vir fasiliteite by die NWU.

 

Die Fasiliteite-departement is verantwoordelik vir ’n verskeidenheid fasiliteitsbestuurs- en verwante dienste op al die kampusse van die NWU. Thabani se rol is om leiding te verskaf om die infrastruktuur- en fasiliteitsbestuur, konstruksie en die optimalisering van ruimte, asook beroepsveiligheid, te bevorder.

 

Waarom ruimte-optimalisering?

 

Die optimalisering van ruimte regoor die kampusse is belangrik omdat daar ’n toenemende vraag na meer ruimte is. Terselfdertyd plaas die verskaffing en bestuur van fasiliteite geweldige druk op die universiteit se finansies, wat ’n nuwe benadering tot die bestuur van uitgawes vereis terwyl die ruimtevereistes in ag geneem word.

 

Thabani sê hy beoog om die universiteit se meesterplan vir infrastruktuur ooreenkomstig die ruimteplan krities te evalueer, en om te kyk hoe die NWU se visie en behoeftes in ag geneem kan word.

 

“Ek wil ook die nuwe vereistes vir en huidige gapings in die infrastruktuur identifiseer om te sien hoe dit in ooreenstemming met die universiteit se strategie beter hanteer kan word,” sê hy.

 

Sy aanstelling het op 2 September van krag geword.

 

Die man agter die titel

 

Thabani, wat van Vryheid, ’n steenkoolmyn- en beesboerderydorp in KwaZulu-Natal kom, het al poste by verskeie organisasies regoor die land beklee. Voor sy aanstelling by die NWU was hy die senior bestuurder vir tegniese dienste by die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

 

Hy beskryf homself as ’n strateeg, as metodies en baie prosesgedrewe. Hy is ’n marathon-entoesias en het hierdie jaar aan sy 10de Comrades-marathon deelgeneem.

 

Die NWU sien daarna uit om die vrugte te pluk van die harde werk, vasberadenheid en strategie wat Thabani na sy nuwe pos bring.