KANSELIER

NWU bring hulde aan uittredende

Raadsvoorsitter dr Bismark Tyobeka (tweede van links) en visekanselier prof Dan Kgwadi (tweede van regs) oorhandig ʼn skildery aan die uittredende kanselier, sy majesteit Kgosi Molotlegi. Registrateur prof Marlene Verhoef (heel regs) kyk toe terwyl Clement Manoko, die uitvoerende direkteur vir korporatiewe verhoudinge en bemarking (heel links) die gehoor toespreek.

Kyk na hierdie video om te sien hoe die NWU hulde gebring het aan die uittredende kanselier.

 

 

Sy majesteit Kgosi Leruo Molotlegi is sedert 2000 die leier van die koninklike Bafokeng-nasie van 150 000 mense in Phokeng in Noordwes. Hy is die 36ste koning van die Bafokeng en die 15de direkte afstammeling van die lang lyn van Bafokeng-konings.

Die geleentheid waartydens die NWU afskeid geneem het van die uittredende kanselier, kan met reg as vorstelik beskryf word – in die volle sin van die woord.

 

Tydens hierdie luisterryke seremonie op 25 September 2019 in Vanderbijlpark, het die NWU hulde gebring aan sy majesteit Kgosi Leruo Molotlegi.

 

Die universiteit het ’n viering en dankiesê-dinee by die Emerald Hotel in Vanderbijlpark gehou om die betrokkenheid, leiding en ondersteuning te vier wat Kgosi Molotlegi tydens sy termyn van 10 jaar aan die instelling gegee het.

 

Sy majesteit Kgosi Leruo Molotlegi is in Junie 2009 as die tweede kanselier van die NWU aangewys, en is in 2014 vir ’n tweede termyn aangewys.

 

Gedurende sy dekade as kanselier het sy rol ontwikkel van dié van ’n seremoniële ampsbekleër – wat hoofsaaklik gradeplegtighede hanteer – tot die ondersoek en bekendstelling van samewerkende projekte om die belange van die NWU te bevorder.

 

ʼn Koninklike vaarwel

 

Tydens die vaarwelseremonie het verskeie lede van die NWU se hoëvlakbestuurstrukture persoonlike huldeblyke gelewer. Hierdie leiers sluit in dr Bismark Tyobeka (voorsitter van die NWU-Raad), prof Dan Kgwadi (visekanselier), prof Linda du Plessis (adjunkvisekanselier vir beplanning en vir kampusbedrywighede in Vanderbijlpark), en Heinz Schoeman-Struwig (voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad).

 

In sy toespraak het Kgosi Molotlegi gesê vandat hy in die laat 1980’s ’n student was, en later as kanselier, het hy ’n kontekstuele en holistiese waardering vir hoër onderwys, en veral vir die NWU, ontwikkel.

 

Werk saam met gemeenskappe

 

Hy het verwys na die uitdagings wat hoëronderwysinstellings in die gesig staar, en verduidelik dat kwessies soos die geskiedkundige erfenis en die swak toestand van die Suid-Afrikaanse skoolstelsel as ’n nasionale prioriteit hanteer moet word om ’n pad vorentoe te vind.

 

“Ek hoop om steeds ná my termyn as kanselier saam met die NWU – en ook met ander instellings vir hoër onderrig – te werk. Ons moet hande vat om die verandering teweeg te bring wat ons in ons samelewing wil sien,” het hy gesê.

 

Hy voorsien ’n tyd dat universiteite dalk ook ’n maatskaplike hulpbron gaan word. “Dit is belangrik omdat die grootste bate van die 21ste eeu die breinkrag van ons jongmense is. Ons moet verseker dat hulle kundiges word in buigsaamheid, selfbewussyn, aanpasbaarheid en respek vir die diversiteit van die maniere waarop kennis ervaar en toegepas kan word.”