gaan aanlyn

Inklusiwiteit en ’n betrokke bewustheid van aktuele sake is belangrike boustene op die pad na uitnemendheid by die NWU. Nie eers ’n pandemie kan keer dat die universiteit homself oor belangrike kwessies soos gender en taal uitlaat nie.

GENDER- EN
TAALBEWUSTHEID

Die NWU het hierdie jaar, in reaksie op die verskeie uitdagings wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, aanlyn gegaan om ’n bewustheid te kweek van die rol van sowel gender as taal in die skepping van ’n meer gelyke Suid-Afrika.

 

Die Genderbewustheidsweek en die Taalbewustheidsweek het van 28 September tot 2 Oktober as ’n gesamentlike aanlyn viering plaasgevind. Die gebeurtenis was vol opwindende werkswinkels, lesings deur beroemde plaaslike en internasionale kundiges, groepbesprekings, ’n aanlyn konsert en selfs ’n danssessie.

 

“Dit is my gender” in gedigte, sang en danse

 

Die aanlyn konsert het personeel en studente se indrukwekkende talent vertoon en het die week lange gender- en taalbewustheidsgeleentheid afgeskop.

 

Elke deelnemer aan die konsert, met die titel “Speaking my gender”, moes ’n voorafopgeneemde video van drie minute ingee wat hul interpretasie van die tema van die konsert deur ’n gedig, liedjie of dans toon.

 

Die lede van die gehoor is uitgenooi om vir hul gunstelingoptredes te stem. Klik hier na die konsert te kyk.

 

’n Terugblik op ’n geslaagde gebeurtenis

 

Die hooforganiseerders van die geleentheid, prof Susan Coetzee-van Rooy en adv René Koraan, onderskeidelik van die Fakulteit Geesteswetenskappe en die Fakulteit Regte, sê hulle waardeer die openhartigheid van die studente, personeel en plaaslike en internasionale kundiges wat deelgeneem het.

 

“Hulle was bereid om hul wysheid te deel in die vorm van voorafopgeneemde video’s wat tydens die geleentheid vertoon is. Die wye omvang en diepte van elkeen se bydrae het baie tot die sukses van die week bygedra.”

 

René en Susan sê die gesamentlike gender- en taalbewustheidsgeleentheid het die volgende insigte na vore laat kom:

 

  • Daar is groot waarde daarin om ’n interseksionele benadering tot ras-, gender- en taalbewustheidsgeleenthede te aanvaar.
  • Dit is uit die gesprekke duidelik dat daar baie meer bespreking nodig is om ’n genuanseerde denkwyse oor hierdie belangrike onderwerpe te ontwikkel. Dit beklemtoon die behoefte om bewustheidsessies aan te bied.
  • Lede van die gehoor het die behoefte uitgespreek om meer as blote “geselsprogramme” aan te bied. Hulle het belanggestel om te praat oor gekoördineerde bewegings om genuanseerde denke oor ras, gender en taal op ’n breër vlak te bevorder.
  • Die organiseerders, aanbieders en lede van die gehoor het gesê gesprekke kan uitgebrei word om meer inklusief te wees.

 

Susan sê die studente wat tot die taalbewustheidsdeel van die week bygedra het, het in hulle terugvoer ’n genuanseerde begrip van die verwantskap tussen taal en die samelewing getoon.

 

Benjamin Truter het byvoorbeeld gesê die onderwerp van die verwantskap tussen taal en die samelewing het hom geïnteresseer as gevolg van die kompleksiteit van die ekonomie, sosiologie, sielkunde en opvoedkunde, en omdat hy kon sien watter invloed taal op alles het.

 

“Ten opsigte van die geskiedenis van taal in die Suid-Afrikaanse samelewing was dit duidelik dat taal ’n instrument van onderdrukking en indoktrinasie in Suid-Afrika was – in akademiese en sosiale sfere, asook in sosio-ekonomiese sfere.”

 

Carol Manyaapelo sê Suid-Afrika is ’n meertalige samelewing wat as gevolg van die beleid van apartheid ’n taalprobleem het.

 

Sy glo Suid-Afrikaners kan hierdie taalprobleme oorkom deur meer gebruik te maak van Afrika-tale in hoër onderwys. “As daar ’n sekere module is wat baie akademiese materiaal het wat reeds in Afrika-tale geskryf is, kan ek nie insien waarom die hoëronderwysinstellings nie Afrika-tale in hulle kurrikulums kan implementeer nie.”

 

Sherriff Ramphele moedig almal aan om Afrika-tale te intellektualiseer deur dit te bevorder en te respekteer.   “Ons moet dit skryf, dit lees en leerders oor Afrika-tale onderrig.”

 

Besoek die webtuiste vir meer inligting oor Gernderbewustheidsweek en Taalbewustheidsweek, en om te kyk na die lesings en gebeurtenisse wat deel daarvan was.

 

 

 

 

Dapper gesprekke

 

“Die NWU wil kritiese gesprekke aanmoedig oor die aktuele sake wat met geslagsgebaseerde geweld verband hou en sy gesprekke oor die gebruik van Suid-Afrikaanse tale op gebiede soos die onderwys en die media uitbrei,” sê prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer.

 

Hy sê dit is waarom dit so belangrik was vir personeel en studente om aan die bewustheidsweek deel te neem.

 

 

 

 

 

 

Adv René Koraan sê die hoogtepunt van die week was vir haar die eerlike bydraes van die NWU-studente en  personeel wat aan die “Speaking my gender”-konsert deelgeneem het.

“Die voortslepende invloed van ons koloniale en apartheidsgeskiedenis op die hedendaagse houding teenoor taal is vir my ontstellend. Dit was baie waardevol om ons taalverlede te ondersoek om die gebruik van tale in Suid-Afrika vandag weer te inspireer en nuut daaroor na te dink,” sê prof Susan Coetzee-van Rooy.