Chris van Niekerk is die kurator van die Botaniese Tuin op die Potchefstroomkampus.

Hoe om 'n

NATUURVRIENDELIKE

TUIN TE SKEP

Aangesien ons die grootste gedeelte van ons werkslewe binnenshuis deurbring, sien ons die natuur as ’n rusplek waar ons kan ontspan en ons batterye kan herlaai. Vir die meeste van ons is die naaste natuuromgewing ons tuine.

 

eish! het vir Chris van Niekerk, kurator van die Botaniese Tuin op die Potchefstroomkampus, gevra om ons te vertel hoe ons diertjies en voëls na ons tuine kan lok om die natuurlike rustigheid van hierdie toevlugsoorde te bevorder.

 

“Julle moet eerstens die manier verander waarop julle jul tuine beskou en dit in stand hou,” sê hy. “Julle sal ’n mate van natuurlike onnetheid moet aanvaar!”

 

Klein veranderinge maak ’n groot verskil

 

“Dit is nie nodig om die hele tuin te herontwerp nie; klein veranderinge kan ’n groot verskil maak.

 

“Die doel is om verskillende habitats te skep om ’n diversiteit van lewe te lok – van mikrobes in die grond tot die teenwoordigheid en geluid van voëls en bye. Hierdie habitats sal plekke in jou tuin verskaf waar voëls en wilde diertjies kan eet, hulle neste kan bou en skuiling kan vind.”

 

Hier is ’n paar feite om in gedagte te hou:

 

  • Voëls hou daarvan om in digte struike of bome nes te maak.
  • Plante wat vrugte dra, lok vrugtevreters, terwyl grasspesies saadvreters lok.
  • Blomme wat nektar produseer, lok suikerbekkies.
  • Organiese materiaal in die blombeddings verskaf ’n habitat vir erdwurms en mikroörganismes in die grond.
  • ’n Waterfonteintjie op grondvlak skep ’n habitat vir waterliewende insekte soos naaldekokers en paddas.
  • Rotse of klippe in die blombeddings skep warm kolletjies vir akkedisse.

 

Alles is aan mekaar verwant

 

Chris beklemtoon dat alle dierelewe deel is van die voedselketting en dat alles interverwant is. “Daar behoort ’n ewewig tussen peste en hul natuurlike predatore te wees – elke keer wat ’n sekere pes of diertjie uitgewis word, is daar ’n wanbalans in die stelsel.”

 

Hoewel peste soos plantluise op rose nie mooi lyk nie, is hulle ’n belangrike voedselbron vir suikerbekkies. Akkedisse help om miere, termiete, vlieë en muskiete in toom te hou. Ons as tuiniers moet die natuur uitlos om vir homself te sorg.”

 

Beteken dit dat jy niks moet doen nie? “Nee,” antwoord Chris, “maar jy moet die manier verander waarop jy jou tuin in stand hou en plante só kies dat jy ’n vriendelike tuin vir voëls en diertjies skep.”

 

Goeie raad

 

Hier is sy raad om jou te help om jou tuin in ’n natuurvriendelike omgewing te omskep:

 

  • Moenie die grond elke week omspit nie. Dit sal die mikroörganismes in die grond versteur, veroorsaak dat die grond uitdroog, en die onkruidsaad laat ontkiem. Hou die grond met ’n natuurlike deklaag bedek.
  • Los al die dooie blare en ander organiese materiaal, soos droë takkies en bas, tussen die plante in die blombeddings. Die organiese materiaal sal as ’n grondbedekking dien en die grond vogtig en koel hou en ook help om die groei van onkruid te onderdruk. Die mikroörganismes en erdwurms in die grond maak op die organiese materiaal staat om as voedselbron te dien.
  • Moenie chemiese plaagdoders en onkruiddoders gebruik nie. Skade wat plae aanrig is tydelik – as blare deur wurms beskadig word, sal plante altyd nuwes produseer.
  • Laat toe dat saad op die plante ontwikkel nadat hulle geblom het, aangesien die saadjies voëls sal lok wat dit kan eet.
  • As jy ’n groot tuin het, kan jy dalk ’n gedeelte van jou tuin toelaat om “wild” te groei.

 

“’n Tuin met ’n mengsel plante behoort ’n verskeidenheid voëls en diertjies te kan onderhou. Die biodiversiteit in jou tuin is die som van al die lewende dinge – plante, voëls, insekte, reptiele, soogdiere en mikroörganismes. Die feit dat daar insekte, voëls en diere in jou tuin is, weerspieël ’n gesonde en gebalanseerde tuin.”

 

Wees op die uitkyk vir die volgende uitgawe van eish! waarin Chris vir ons gaan vertel watter plantspesies diere lok en ons tuine ’n lushof vir onder meer bye en voëls maak.