Ons het ’n buitengewone koue winter gehad, wat almal laat bibber het. Nou, met die somer in al sy glorie hier, kyk prof Hector Chikoore, wat in meteorologie, klimatologie en klimaatsverandering spesialiseer, terug op die afgelope seisoen, en na wat die weer in die toekoms vir ons inhou.

 

V: Het ons vergeleke met vorige jare ’n abnormale koue winter gehad?

 

A: Voorlopige ontledings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se rekords – hoofsaaklik vir Junie en Julie – dui daarop dat die 2020-winter een van die kouer winterseisoene was. Dit was egter nie  noodwendig die koudste sedert rekordhouding met behulp van instrumente in Suid-Afrika in 1860 begin het nie.

 

Inligting op die SAWD se webwerf dui daarop dat, gebaseer op jare se waarnemings, verskeie uiterste temperature gedurende die winter van 2020 aangeteken is. Dit breek die langtermynrekords van laagste minimum en laagste maksimum temperature.

 

Nagtemperature (die minimum) oor die sentrale Hoëveld en die noordoostelike binneland was oor die algemeen laer as die langtermyn-gemiddelde, terwyl dagtemperature (die maksimum) – behalwe vir die noordoostelike distrikte – warmer (as normaal) was.

 

Benewens die anomale temperature, het die winterreënvalstreke van Suid-Afrika ook ’n beduidende hoeveelheid reën ontvang, wat ’n positiewe uitwerking op damvlakke, landbou-aktiwiteite en watervoorraad behoort te hê.

 

Voorlopige data van die SAWD toon dat die meeste stasies in die suidelike dele van die Wes-Kaap meer as 100% van hulle normale reënval vir Julie 2020 ontvang het. Die stasie by Darling het 247 mm reën aangeteken, wat 309% van die klimatologiese normaal is.

 

V: Sal dit ’n effek op ons lente en somer hê, en is daar ’n korrelasie tussen koue winters en die daaropvolgende somer? Wat kan die land ten opsigte van reënval in die komende maande verwag?

 

A: Die Suid-Afrikaanse somerreënvalstreek word beïnvloed deur die El Niño Suidelike Ossilasie (ENSO), ’n verskynsel wat verband hou met die see-oppervlaktemperature (SST’s) in die ekwatoriale Stille Oseaan.

 

El Niño-gebeurtenisse kom voor wanneer die SST’s in die ekwatoriale Stille Oseaan bogemiddeld is, terwyl ’n La Niña-gebeurtenis voorkom wanneer die SST’s ondergemiddeld is.

 

Die meeste droogtes in Suider-Afrika kom tydens El Niño-toestande voor, terwyl La Niña gewoonlik hoër as gemiddelde reënval tot gevolg het.

 

Sommige studies het ook ’n groter waarskynlikheid gevind dat tropiese siklone tydens La Niña aan die Mosambiekse kus die land sal bereik, hoewel daar ’n baie klein waarskynlikheid is dat die land getref sal word.

 

Die jongste ENSO-voorspellings vanaf die meeste wêreldwye sentrums voorspel die ontwikkeling van La Niña-toestande wat in die somer ’n hoogtepunt sal bereik, en ook ’n groter waarskynlikheid van gemiddelde tot bogemiddelde seisoenale reënval oor ’n groot gedeelte van die subkontinent.

 

Daar moet beklemtoon word dat die atmosfeer ’n komplekse, nielineêre dinamiese stelsel is, en daarom is daar ander verskynsels soos SST’s in die Indiese en Atlantiese Oseaan wat die ENSO-sein dalk kan teenwerk.

 

V: Het ons oor die afgelope paar seisoene abnormale weerpatrone vergeleke met vorige jare ervaar? Indien dit so is, kan dit aan aardverwarming toegeskryf word?

 

A: In ooreenstemming met tendense in talle subtropiese streke het die Suider-Afrikaanse streek vinnig-stygende temperature ervaar, veral in die afgelope dekade.

 

Die warmste jaar wêreldwyd was 2016, wat vererger is deur die voorkoms van een van die mees intense El Niño-gebeurtenisse in 2015/16. Die styging in oppervlaktemperature is ook vergesel van ’n verhoogde voorkoms van uiterste gebeurtenisse soos hittegolwe en droogtes.

 

Hoewel die temperatuurtendens opwaarts en statisties beduidend is, is die langtermyn-reënvaltendens in verskeie studies as gevolg van ’n hoë koeffisiënt van veranderlikheid meestal nie statisties beduidend nie.

 

Die meeste studies oor klimaatstendense het bevind en voorspel dat die aanbreek van die somerreënseisoen oor Suider-Afrika as gevolg van uitdroging in die lente vertraag sal word, wat ’n langer droë seisoen impliseer, en gevolge vir brandbestuur inhou.

 

Daarbenewens het swaar neerslae meer intens geword, en word daar voorspel dat dit nog meer sal voorkom. (Dit is volgens termodinamiese argumente dat ’n warmer atmosfeer meer waterdamp kan hou, met ’n gevolglike hoër samevloeiende beskikbare potensiële energie – met ander woorde die energie wat nodig is om donderstorms te genereer.)

Klik hier om die volledige artikel te lees.

Die SAWD se verslag oor die jaarlikse toestand van die klimaat van Suid-Afrika vir 2019 (Annual State of the Climate of South Africa 2019) het ’n statisties-beduidende stygende tendens in oppervlak-lugtemperature van 0,16 °C per dekade aangedui, met die jare 2015 en 2019 wat volgens SAWD-rekords as twee van die warmste jare aangeteken is.

WISPELTURIG IS

Waarom ons weer

Prof Hector Chikoore is van die vakgroep Geografie en Omgewingsbestuur in die Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe op die Vanderbijlparkkampus.

WISPEL-TURIG IS