PROFIELE

Jessica het ’n BA-graad in kommunikasie en taalpraktyk op die kampus in Vanderbijlpark verwerf.

 

Sy sê sy bewonder elke dosent wat haar pad gekruis het - elkeen het vir haar ’n ander perspektief gegee, waarvoor sy innig dankbaar is. “Ek het op hulle passie en toewyding floreer, en dit het die wêreld se verskil gemaak.”

 

 “Hoe meer ek gedoen het, hoe meer wou ek doen”

 

Jessica het nog altyd baie belangstellings en talente gehad, waarvan kuns een was. As skoolmeisie het sy volle kleure vir kuns en kultuur gekry nadat sy nasionale kunskompetisies soos die Sasol Techno-X drie jaar agtermekaar – van 2007 tot 2009 – gewen het.

 

Jessica: skaam kleuter word wêreldburger

Jessica da Rocha laat koppe draai waar sy ook al gaan. Ja, haar agtergrond as gesogte loopplank- en fotografiese model dra tot haar bekoring by, maar dit is eintlik haar entoesiasme vir die lewe wat almal twee keer laat kyk.

Wanneer jy haar egter leer ken, vind jy gou uit dat haar selfvertroue nie van die kolligte op ’n verhoog en ontwerpersklere afhang nie, maar eerder van ’n diepgewortelde nederigheid.

 

Op 27-jarige ouderdom het Jessica die wêreld aan haar voete.Nadat sy in Januarie 2018 vir haar hoërskoolliefde, Daniel, “ja” gesê het, het die Da Rochas hulle in Maidenhead, ’n groot markdorp in Berkshire, Engeland gevestig.

 

As mediadoeltreffendheidsbestuurder by die InterContinental Hotels-groep (IHG®) gebruik Jessica haar opleiding as kommunikasiespesialis met groot vrug, en bevestig sy daarmee dat ’n kwalifikasie van die NWU internasionale erkenning ontvang.

 

“Ons skuif na Engeland het net op die regte tyd gekom,” sê Jessica. As jong, onafhanklike pasgetroudes het sy en Daniel gedink dit was die regte tyd om hierdie sprong te maak en hul lewens met ’n nuwe omgewing en ervarings te verryk.

 

Aangesien hulle van Portugese afkoms is, het die emigrasieproses na die Verenigde Koninkryk (VK) glad verloop.  Boonop is daar ook geen taalstruikelblok nie en het hulle reeds ’n ondersteuningsnetwerk van familielede in die VK.

 

Dit het alles op die walle van die Vaalrivier begin

 

Jessica het haar reis by die NWU in 2010 begin toe sy vir ’n BA-graad in kommunikasie en taalpraktyk op die kampus in Vanderbijlpark ingeskryf het.

 

Om in haar tuisdorp te studeer, het vir Jessica eerder veilig laat voel as wat dit haar beperk het.

 

Sy onthou met vreugde hoe sy saam met haar vriende op die lowergroen walle van die Vaalrivier gesit en die wonderlike uitsig geniet het wat die kampus bied, en hoe sy na die kaskenades van die berugte klompie kampusganse gekyk het.

 

Nog ’n heerlike herinnering is die gesprekke en vriendskap met inspirerende dosente.“My dosente verdien al die krediet dat hulle my passie regdeur my studiejare lewendig gehou het.”

 

Sy het haar studies met onderskeiding voltooi en in 2014 haar BA-graad opgevolg met ’n honneursgraad in joernalistiek – weer eens met onderskeiding. Haar akademiese prestasies het daartoe gelei dat sy by die Golden Key International Honour Society ingelyf is.

 

Jessica se aanleg vir tale het ook aan haar ’n pos as onderrigassistent by die Skool vir Tale en as ’n fasiliteerder vir die Frans-vakgroep besorg.

 

’n Wêreldwye wêreld van werk

 

Hoewel modelwerk haar gehelp het om haar skaamheid te oorwin, het die NWU vir haar die pad vir ’n loopbaan sonder grense oopgemaak.

 

“Ek glo die voltooiing van my graad met onderskeiding het werklik vir my deure oopgemaak.” Sy sê benewens die NWU se hooggewaardeerde kwalifikasies, het haar alma mater ook gehelp om haar as kritiese denker en as ʼn doener met impak te vorm.

 

In haar pos by IHG®, wat wêreldwyd talle hotelhandelsmerke besit en bestuur, is Jessica verantwoordelik vir marknavorsing en -strategie, mededingingsintelligensie, datavisualisering, voorspellings en storievertelling.

 

Jessica het vroeër poste by NetFlorist SA as mediabemarker en by Butterfly Effect Intelligence as ’n bemarkingsinsig- en gehaltebestuurder beklee.

 

Sy glo vas dat harde werk lonend is, en dat jy jou eie geluk bewerkstellig deur teenwoordig, proaktief en hardwerkend te wees.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Meer oor Jessica

 

  • Wat is jou stokperdjies? Ek is mal oor kook en ook om dinge te ondersoek.
  • Waarna luister jy in jou motor? Ek hou baie daarvan om na gesprekke oor die radio te luister.
  • Wie beskou jy as jou rolmodelle? Enigeen wat al teëspoed in die lewe ervaar het en dit gebruik het om iets groots te bereik.
  • Watter erfenis sal jy graag wil agterlaat? Ek sal daarvan hou as mense my onthou vir goeie dade wat ek gedoen het om vir ander die lewe beter te maak.

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U