REDKASIONEEL

 

 

NWU is deel van drie geslagte

 

In Helei Jooste se familie is daar drie geslagte wie se voetsproe op NWU-grond lê.

Helei en manlief Petri, hul oudste dogter, Petri se ouers en Helei se ma is almal NWU-alumni.

 

Helei het 'n BCom-graad in 1992 behaal, gevolg deur ’n BComHons in 2000 en ’n MCom in 2017, albei in Vanderbijlpark.

 

Petri het ʼn BA-graad (in tale) in 1991 in Potchefstroom verwerf, en ʼn honneurs- en meestersgraad in rekenaarwetenskappe in 1992 en 1996 onderskeidelik, in Vanderbijlpark.

 

Petri se ouers, prof Theo de Wet Jooste en dr Ena Jooste, is al twee alumni wat in Potchefstroom studeer het en ook daar klasgegee het.

 

Helei se ma, Daleen van der Walt, het aan die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege (Pote) studeer.

 

 

Dit was die jaar 1989 …

Helei Jooste, haar man, Petri en hul dogter Dané. Helei is die persoonlike assistent van prof Herman van der Merwe, die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se adjunkdekaan vir onderrig en leer.

 

Petri is 'n lektor in die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels en hul oudste dogter, Dané, het onlangs ʼn BSc-graad behaal met fisiologie en psigologie as hoofvakke.

 

Sy is tans besig met ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat.

Beste mede-alumni,

 

Soos die seisoen verander en die grou winterweer plek maak vir warmer dae en prentjiemooi bloeisels, betrap ek myself waar ek met heimwee terugdink aan my seisoen as ’n student aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, nou die Noordwes-Universiteit.

 

Dit was die jaar 1989 en ek was ’n trotse lid van die Klawerhof-familie. Alles omtrent daardie tyd was spesiaal en lekker – en ek dink met genoegdoening en dankbaarheid terug aan al die hoendervleis-ervaringe waarin ek kon deel.

 

Dit was dan ook in die skadu van die reusebome in Lovers’ Lane waar ek my wederhelf (’n “nefie” van Amajuba) ontmoet het – en vandag is ek en Petri al 27 jaar getroud!

 

Ons is ook die trotse ouers van ’n NWU-graduanda – ons het ’n maand of twee gelede die voorreg gehad om te sien hoe sy die verhoog in haar swart toga betree. My moederhart wou bars van trots!

 

As jy in ag neem dat die universiteit reeds vir drie geslagte deel is van ons familie, dan is dit duidelik waarom dié instelling vir ons soveel waarde inhou.

 

Dit is hier waar ons kennis geslyp is, waar ons vaardighede bemeester is en, ons die vrymoedigheid gegun is om blinkoog oor die toekoms te droom. En ja, ek is ’n dromer, want ek weet uit eie ondervinding dat drome waar word. Waaroor droom ek? Ek droom oor die dag dat ek en Petri ons tweelingdogters, wat pas hul hoërskool-avontuur begin het, ook tot die NWU-familie kan verwelkom.

 

En tot dié dag aanbreek, sal ek my alma mater se vlag hoog hou en my bly verkneukel aan die lekkerte van onthou en die gewaarwording van potensiaal soos ek dit deur die oë van my dogter ervaar.

 

 

Groete,

 

Helei Jooste

Vanderbijlpark

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

 

Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za, faks dit na 086 614 3222 of pos dit aan Nelia Engelbrecht, Korporatiewe Kommunikasie, Noordwes-Universiteit, Privaat Sak X1290, Potchefstroom, 2520.

 

ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!

NWU & U  |

NWU & U  |

INHOUD

NWU & U