gee NWU-sport ’n hupstoot

DEFTIGE NUWE VOORKOMS

“Ons sal verder uitstaan as een van die land se mees gesogte sportbestemmings,” sê Jean Verster, bestuurder van die Hoëprestasie-instituut (HPI) wat tans in gebou K21 geleë is.

 

Die verbeterings sentreer om die pasopgeknapte en geherstruktureerde gebou K2, wat vanaf die einde van Mei 2021 stelselmatig in gebruik geneem sal word, met die oog op volle okkupasie teen die einde van die jaar.

 

Die K2-gebou sal voortaan die HPI en ander navorsings- en opvoedkundige eenhede huisves, soos die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie en ook die Instituut vir Biokinetika, wat tans in Cachetpark in die Virgin Active-gebou geleë is.

 

Eenstopdiens vir atlete

 

“Met hierdie verskuiwing na die nuwe gebou sal ons werklik ’n eenstopdiens vir atlete wees. Dit gaan ongelooflik wees,” sê Jean.

 

Onderrig en leer vir atlete sal in gebou K21 plaasvind, terwyl oefengeriewe en administrasie in gebou K2 gehuisves sal word.

 

Hierdie gebou sal in die toekoms ook die NWU se verskillende sportkodes soos onder andere rugby, krieket, netbal, hokkie, atletiek en sokker huisves, asook die gimnasium en nuwe rehabilitasiegeriewe.

 

Nuwe geriewe sal nat en droë herstelareas, ʼn hiperbariese kamer, ’n teengravitasie-trapmeul, NormaTec-kompressietoebehore en moontlik ’n kriokamer (koue terapie) insluit.

 

 

Die NWU was nog altyd bekend vir die gehalte van sy sportgeriewe. Dié geriewe gaan nou selfs nog beter en deftiger wees wanneer opknappings by die Fanie du Toit-sportterrein op die Potchefstroomkampus in die afsienbare toekoms voltooi is.

 

Dit is die huidige Hoëprestasie-instituut-gebou.

Deel van ’n span soos geen ander nie … van links is die HPI se Jerry Motsau (administratiewe assistent), Ruben Gouws (koördineerder vir bemarking, sosiale media en geleenthede), Norman Smith (afdelingshoof van die HPI), Jean Verster (bestuurder van die HPI) en Tebogo Motlogelwa (administratiewe assistent) voor die K2-gebou.

 

Wanneer dit voltooi is, sal die gebou ’n baie moderne fasiliteit met onbeskryflike potensiaal wees.

 

 

“Ons sal met hierdie skuif dus meer aandag aan navorsing kan gee en beter na atlete se behoeftes kan omsien, en as geheel sal die NWU nou aanlokliker as ooit vir atlete wees.”

 

-  Jean Verster, bestuurder van die Hoëprestasie-instituut.