eish! het met prof Klaus Beiter, medeprofessor in die NWU se Fakulteit Regte, gepraat oor dinge om in ag te neem wat digitale outeursreg betref.

 

V: Waarom moet akademici van digitale outeursreg bewus wees?

A: Dit is belangrik om te onthou dat outeursreg in enige vorm bestaan as jy jou vaardighede, arbeid of oordeel belê het om iets te skep waarin jy jou idees weergee. Dit sluit lesings (ook mondelinge aanbiedings), studiemateriaal, aanbiedings en navorsing in.

 

Om jou regte te ken en wakker te loop, is die sleutel tot die beskerming van jou outeursreg, aangesien inligting in die digitale omgewing maklik en op ’n groot skaal versprei kan word.

 

V: Wat van outeursreg wanneer jy jou onderrig- en navorsingsinligting publiseer?

A: As ’n akademikus besit jy altyd die outeursreg op wat jy skryf. In sommige gevalle is daar egter ’n oordrag van outeursreg wanneer sulke navorsing of werk gepubliseer word – in analoog- sowel as in digitale omgewings. Oordrag kan slegs deur skriftelike en ondertekende kontrakte met uitgewers of die universiteit plaasvind.

 

Wees waaksaam oor die soort kontrakte wat jy met uitgewers sluit. Een manier om jou inhoud te publiseer, is ooptoegangpublikasie, wat ’n goeie idee is om idees aan ’n groter gehoor oor te dra terwyl jy talle regte behou om jou tekste te gebruik.

 

Nog een is waar jou inligting agter ’n betaalmuur bly, wat gewoonlik grootskaalse toegang daartoe beperk.

 

Jy moet weet hoe jy jou inhoud wil publiseer en wat die implikasies is, aangesien elke manier sy eie reëls en outeursregstipulasies het. Oop toegang is dikwels duur, maar die universiteit kan tot die koste bydra.

 

V: Wat van outeursreg wanneer jy iets vir jou werkgewer skryf?

A: Hoewel die gewone reël is dat wanneer jy iets vir ’n werkgewer skryf, die werkgewer die outeursreg besit, is die uitsondering in die universiteitskonteks dat die akademikus (en nie die universiteit nie) ingevolge die gemenereg die outeursreg besit.

 

Die inhoud wat jy as akademikus skep, behoort aan jou – universiteite kan nie algemene beleidsreëls maak wat sê die eienaarskap is hulle s’n nie.

 

Om eienaarskap te eis van iets wat ’n akademikus produseer, is in stryd met akademiese vryheid, wat in artikel 16 van die Grondwet beskerm word. Wanneer die universiteit “jou” teks besit, kan hulle dit ook verander (en sensor).

 

V: Hoe kan jy jou teen aantasting van jou outeursreg beskerm?

A: Die beste manier is om aan ander te sê dat jy die eienaar van die inhoud is en dat dit deur outeursreg beskerm word.

 

Dit kan dit vir jou makliker maak om stappe teen individue of platforms te doen indien jou inligting op die internet verskyn.

 

Op die ou end bly dit jou verantwoordelikheid as die eienaar van die inhoud om seker te maak dat jou inligting beskerm word. Om dit vroegtydig te beveilig, is beter as om die saak te hanteer wanneer outeursreg reeds geskend is.

Digitale media is baie doeltreffende instrumente om idees te kommunikeer, maar dit kan ook ’n klomp slaggate veroorsaak waarin plagiaat maklik met inhoud gepleeg kan word of dit gedeel of gebruik kan word sonder om aan die eienaars daarvan erkenning te gee.

vir akademici en navorsers

 

 

Hoe om jou intellektuele eiendom te beveilig

 

  • Maak dit altyd duidelik dat jy die outeursreg van jou werk besit. Maak dit in geskrewe vorm by aanbiedings, tydens lesings en in studiegidse sigbaar. Maak dit duidelik dat lesings nie sonder jou toestemming opgeneem of op die internet geplaas mag word nie.

 

  • Wees versigtig wanneer jy inligting vir almal op die internet beskikbaar stel. Die oomblik as jy dit doen, het jy jou outeursreg op die internet verbeur, en die inligting kan geredelik beskou word as dat dit deel van die openbare domein geword het. Jy as ’n skrywer kan nie die gebruik daarvan verhoed nie.

 

  • Op die gebied van publikasie moet jy as akademikus seker maak dat jy genoegsame regte behou om jou toe te laat om jou inhoud te hergebruik. Elke uitgewer het sy eie reëls oor wat hulle toelaat en dit kan beperkend wees.

 

  • Wanneer jy opdrag kry om ’n handboek te skryf, maak in die ooreenkoms seker wat die onderskeie regte van elke party is en dat daardie regte beskerm word.

 

 

FOKUS OP

DIGITALE OUTEURSREG

Aanlyn outeursreg was nog nooit so belangrik vir die skeppers van unieke inhoud – soos akademici en navorsers – soos nou nie. Om jou intellektuele eiendom te beveilig, is veral relevant as ’n mens dink aan die fondse en tallose ure (en in baie gevalle jare) van harde werk wat bestee word om navorsings- en akademiese uitsette te skep.