Voormalige strategiebeampte Robert Kettles het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling en implementering van ’n nuwe strategie vir die NWU.

 

ONS
GROET VIR

Robert, wat aan die einde van 2020 as strategiese beampte in die kantoor van die visekanselier afgetree het, het sy lang reis met die universiteit in 1987 begin, toe hy as dosent in die Fakulteit Regte by die NWU se voorganger, die Universiteit van Noordwes, aangesluit het. Net meer as ’n dekade later het hy die dekaan van die fakulteit geword en toe, in 2005, is hy as die registrateur van die NWU se Mahikengkampus aangestel.

 

Maak ’n verskil in Potchefstroom

 

Visekanselier prof Dan Kgwadi sê een van sy verstandigste besluite op sy pad om die NWU vorentoe te neem, was om Robert saam met hom Potchefstroom toe te vat toe hy in 2014 die visekanselier geword het.

 

Robert was as strategiebeampte nou betrokke by die ontwikkeling en implementering van ’n nuwe strategie vir die NWU. “Die moeilikste aktiwiteit was om die strategiese ontwikkelingsproses te laat slaag terwyl daar weerstand teen verandering was,” sê hy.

 

Aan die ander kant was die finalisering van die proses en om tasbare resultate van die implementering van die strategie te sien, die aangenaamste aspek van sy werk as strategiebeampte.

 

Kyk na die toekoms

 

Robert sê die NWU is ’n innoverende en veerkragtige instelling. “Niemand kan aan die bevoegdheid van die personeel en die studente twyfel om struikelblokke soos die Covid-19-pandemie te oorkom nie. ’n Mens kan maar net kyk hoe die akademiese jaar gered is deur die wonderlike aanpasbaarheid wat hulle getoon het om na aanlyn onderrig oor te skakel.”

 

Wat hy waarskynlik die meeste gaan mis van die NWU is die vriendelike en meelewende werksomgewing, sê Robert. Hy is nie heeltemal seker waar hy en sy gesin uiteindelik tot ruste gaan kom noudat hy afgetree het nie, maar soos hy dit stel, “ons is tevrede om te gaan waarheen die noodlot ons neem”.

 

Wanneer hy op sy lang en produktiewe loopbaan terugkyk, is dit geen wonder dat hierdie bedrywige man se laaste opmerking is dat, hoewel hy ’n lang ruskans nodig het, hy graag in die toekoms by een of ander werk betrokke sal wil raak nie.

Toe hy sy lessenaar aan die einde van verlede jaar leegmaak, kom die voormalige strategiebeampte Robert Kettles op ’n slapskyf in sy laai af. Dit, sê hy, wys jou hoe lank hy al by die universiteit is en waarom dit nou die tyd is om aan te beweeg.