Die NWU versamel en verwerk die persoonlike inligting van duisende studente en personeellede, maar jy kan gerus wees dat hierdie inligting met die grootste sorg hanteer word.

 

Jy het waarskynlik die vrywaring gesien wat outomaties aan die onderkant van elke e-pos aangebring word wat jy vanaf GroupWise stuur. Hierdie vrywaring is gekoppel aan die universiteit se privaatheidsverklaring, wat onlangs bygewerk is. Maar weet jy hoe hierdie verklaring jou regte ten opsigte van jou persoonlike inligting raak?

V: Wat is ’n privaatheidsverklaring en waarom het die NWU een nodig?

A: Die privaatheidsverklaring is ’n dokument wat deur die wet vereis word en beskryf waarom en hoe die universiteit jou persoonlike inligting insamel en gebruik, en wat jou regte in hierdie verband is.

 

Ons het so ’n verklaring egter nie bloot om aan ’n regsvereiste te voldoen nie. Dit demonstreer ook ons  sterk verbintenis om die persoonlike inligting van ons belanghebbers te beskerm.

 

V: Waarom was dit nodig om die NWU se privaatheidsverklaring by te werk?

A: Die privaatheidsverklaring is ontwikkel ter nakoming van die regulasies wat in die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) uiteengesit is en op 1 Julie 2020 van krag geword het.

 

Ons moet die verklaring van tyd tot tyd wysig om met die jongste ontwikkeling in tegnologie en wysigings aan die tersaaklike wetgewing by te hou.

 

V: Wat presies word met “persoonlike inligting” bedoel?

A: In die privaatheidsverklaring verskaf ons ’n lys van die verskillende tipes inligting wat van toepassing is. Hierdie inligting strek van data oor ras, geslag en huwelikstatus, tot biometriese inligting en die menings of beskouings van ’n persoon.

 

V: Hoe gebruik die universiteit my persoonlike inligting?

A: Die NWU gebruik dit slegs vir spesifieke, wettige doeleindes wat met ’n aktiwiteit of funksie van die universiteit verband hou. Met ander woorde, ons sal dit slegs gebruik vir die doeleindes waarvoor dit ingesamel is en waarop ooreengekom is, of – wanneer nodig – vir regs- of navorsingsdoeleindes.

 

V: Word die NWU toegelaat om my persoonlike inligting aan derde partye te gee?

A: Ja, die universiteit mag dit onder sekere toelaatbare omstandighede doen, byvoorbeeld as dit vir enige bedryfs- of regsprosesse vereis word. (Die ander omstandighede waaronder die universiteit jou persoonlike inligting mag bekend maak, word in die privaatheidsverklaring verduidelik.)

 

Jy kan gerus wees dat wanneer inligting met enige gemagtigde derde partye gedeel word, die universiteit steeds aan al die privaatheidsvereistes sal voldoen soos POPIA dit vereis.

 

V: Watter ander belangrike sake word in die privaatheidsverklaring hanteer?

A: Die privaatheidsverklaring verduidelik hoe ons jou persoonlike inligting beskerm en verhoed dat ongemagtigde toegang daartoe verkry word. Dit verduidelik ook jou wetlike regte ten opsigte van jou persoonlike inligting. Jy mag byvoorbeeld vir ons vra watter inligting ons het en versoek dat ons dit verwyder as dit nie langer vir die oorspronklike doel nodig is nie.

 

Klik hier om die volledige privaatheidsverklaring te lees en om te sien wat jou regte ten opsigte van jou persoonlike inligting is.

Eric Swanepoel is van Rekords, Argiewe en Museums.

PERSOONLIKE INLIGTING

Jou

FOKUS OP

eish! het met Eric Swanepoel van Rekords, Argiewe en Museums gepraat oor die doel en implikasies van die bygewerkte privaatheidsverklaring wat die universiteit se bestuurskomitee op 2 Desember 2020 goedgekeur het.

@NWU

Vind uit hoe jy navraag kan doen oor jou persoonlike inligting wat die NWU het.