TAALGHOEROE

TOEKENING

ontvang bemagtigingstoekenning

Johan Blaauw se passie vir tale het onlangs aan hom ’n welverdiende plek besorg onder ’n paar uitgesoekte mense wat ’n Koker-toekenning van die Afrikaanse Taalraad ontvang het.

Johan, die direkteur van die NWU se Taaldirektoraat, het hierdie toekenning op 20 November 2020 ontvang vir sy rol om mense deur Afrikaans te bemagtig.

 

Hy is egter nie net passievol oor die gebruik van Afrikaans as akademiese taal nie, maar ook oor die bevordering van die akademiese status van Afrikatale.

 

Deel hierdie voorreg

 

“Dit is ’n voorreg vir Afrikaanssprekende studente om ’n graad in Afrikaans aan die NWU te voltooi, maar ons kan nie hierdie voorreg vir onsself hou nie. Die sprekers van ons mede-Afrikatale moet ook die voordeel kan geniet om deur hulle moedertaal bemagtig te word.

 

“Ons maak dit moontlik deur Tswana en Suid-Sotho – die tale wat oorheersend is in die streke waar ons kampusse geleë is – naas Afrikaans en Engels as onderrigtale te bevorder. Dit is natuurlik in ooreenstemming met die NWU se beleid van meertaligheid,” sê hy.

 

Johan, ’n veelsydige taalpraktisyn sedert 1979, het ’n baie groot rol in die ontwikkeling en bevordering van die NWU se taalbeleid gespeel. Hy was ook die sleutelfiguur in ’n baanbreker- opvoedkundige tolkdiens by die universiteit – ’n stelsel wat as die grootste van sy soort in die wêreld beskou word.

 

Deel die droom

 

“Op die ou end wil ons hê ons studente moet in staat wees om onderrig-leer-inhoud beter te bemeester, internaliseer en reproduseer – en om dit in ’n aantal tale te kan doen,” sê hy.

 

“Ons droom is om ’n universiteit te skep waar almal in hulle taal welkom sal voel en hulle tale kan gebruik om onderrig te gee, te leer en vryelik met mekaar om te gaan.”

 

ontvang bemagtigings-toekenning