COVID-19

In sport is dit net so belangrik dat die toeskouers vermaak moet word, as wat dit is dat hulle die sportlui moet aanmoedig en toejuig. Die hele idee is dus dat atlete en ondersteuners ’n eenheid moet vorm – en dit is maar net een van die talle verliese wat Covid-19 veroorsaak het.

Die NWU is trots op sy sport-erfenis en -prestasies. Dit is waarom talle studente en personeellede kies om hulle studies aan die NWU voort te sit en waarom nasionale en internasionale spanne die universiteit se gesogte geriewe vir hulle opleiding en as basisse vir hulle bedrywighede gebruik.

 

Die NWU se sportkundigheid dwing bewondering af en sy toewyding aan uitnemendheid word hoog geag. Die wêreldwye epidemie het egter sy tol geëis.

 

Soos Sean McCallaghan, bestuurder vir sport op die Vanderbijlparkkampus, verduidelik: sport by die NWU is hard getref.

 

“Ons wil bitter graag weer aan die gang kom, aangesien ons vir amper 12 maande onaktief was. Ons het ’n strategie gereed om weer te begin speel, maar ons weet steeds nie wanneer ons weer ten volle operasioneel sal wees nie,” sê hy.

 

Verlore geleenthede

 

“Die epidemie het ook ’n geweldige impak op ons studentewerwing. Ons personeellede kon nie uitgaan om te kyk hoe potensiële studente aan sport deelneem nie, aangesien die skole geen sportgeleenthede gehou het nie. Dink net aan al die geleenthede wat verlore is. Kinders droom daarvan om aan gebeurtenisse soos die Cravenweek deel te neem, maar nou het van hulle daardie geleentheid verloor.”

 

Vir Sean is die frustrerendste deel dat om die sport weer aan die gang te kry, ’n begin-en-stop-situasie is. “Ons het in Desember met ’n bietjie netbal begin, maar dis al. Ons sal 2020 nooit weer terugkry nie. Ons hoop dat 2021 ’n bietjie beter sal wees,” sê hy.

 

Nog ’n struikelblok is om die personeel gemotiveer te hou – ’n uitdaging wat ’n bietjie kreatiwiteit vereis. “Baie van ons moes tegnologies baie vindingryk raak. Ons moes uit ons gemaksones beweeg, wat waarskynlik nooit ’n slegte idee is nie. Ek het vlot begin WhatsApp praat,” lag hy.

 

Omstandighede bepaal wat gebeur

 

Rick van Rooyen, direkteur vir sport op die Mahikengkampus, beaam Sean se opmerkings. “Die effek van die pandemie was rampspoedig, aangesien ons geen sport gehad het nie. Ons kon teen die einde van die jaar ’n paar atlete op die kampus toelaat om te oefen, maar dit het nie baie gehelp nie, aangesien die federasies self nie met hulle programme kon begin nie,” sê Rick.

 

Hoewel die kampus gehoop het dat die USSA- en Varsity Sport-kompetisies sou begin, kon dit nie gebeur nie.

 

Soos dinge tans lyk, is dit onwaarskynlik dat daar enige sportaktiwiteite voor Junie 2021 sal wees. “As ons ’n halwe jaar se sport kan inkry, sal dit al help,” sê Rick.

 

Die beste manier om dit te hanteer, is maar om te wag en te sien, voeg hy by. “Daar sal altyd ’n behoefte aan sport wees. Wanneer die pandemie eers verby is en die virus is onder beheer, is ek seker dat sport sal voortgaan. Maar tot dan, en totdat almal die korrekte inenting ontvang het, sal ons ons maar deur die omstandighede moet laat lei en sien wat gebeur.”

 

Intussen, met die ondersteuning van die universiteitsbestuurskomitee by die NWU, is ’n strategie voorberei om sport te help om veilig te hervat.

 

Ons byt vas

 

Sheldon Rostron, bestuurder vir sport by die Potchefstroomkampus, sê die kampus kon daarin slaag om ’n groot getal hoëprestasiestudente vir 2021 terug te kry. “Die doel is om te verseker dat daar ’n volhoubare program is, nie net vir sport nie, maar ook om die studente te help om hulle akademie te bestuur.”

 

Sheldon waarsku egter dat daar nog meer slaggate gaan wees as dié waarvan ’n mens bewus is. “Iets wat ons dikwels vergeet, is die sielkundige aspek, veral vir van ons topatlete wat op die wêreldverhoog moet deelneem.”

 

Vir hierdie atlete is tydsberekening noodsaaklik sodat hulle onmiddellik kan begin sodra datums en gebeurtenisse gefinaliseer is.

 

Opleidingsprogramme is in plek om te verseker dat atlete gereed is wanneer dit gebeur en dat almal reg is om die eerste geleenthede aan te gryp.

 

“Ons sal gereed wees om medaljes en trofeë te verower as ons weer begin,” sê Sheldon, en voeg by dat die NWU se sportpersoneel ’n kloppie op die skouer verdien.

 

“Hulle het ongelooflik hard gewerk in 2020 en 2021. Hoewel hulle van die huis af gewerk het, het hulle in kontak gebly met die studente en is hulle regdeur die universiteit aangewend om ondersteuning te verskaf waar dit nodig was.”

 

Daar kan nog ’n paar hekkies wees om te oorkom, maar dit gaan nie sport by die NWU terughou nie.

 

 

Op 18 Oktober 2020 het die Potchefstroomkampus een van die drie gelyktydige bene van die Sanlam Kaapstad- Virtuele Marathon – Elite-uitnodigingswedloop aangebied, met die algehele manswenner, Edward Mothibi, wat op die Potchefstroomkampus gehardloop het. (Foto’s: Wouter Pienaar, Media24)

Sport moet nog 'n paar hekkies oorkom