NUWE STRATEGIEBEAMPTE

is die bewys dat goeie dinge in drieë kom

Dr Duane Aslett is as die strategiebeampte in die kantoor van die visekanselier, prof Dan Kgwadi, aangestel. Hy volg in die voetspore van Robert Kettles, wat verlede jaar afgetree het.

Dit is wat gebeur het: Die eerste en beste deel van hierdie vreugdevolle gebeure was die aankoms van sy seuntjie, Dallas Joshua Aslett, op 22 September 2020. Daarna, op 1 Desember, begin Duane ’n nuwe werk as strategiebeampte in die kantoor van die visekanselier en verhuis hy na die Heide-dameskoshuis as pasaangestelde huisvader.

 

Op die tydstip toe Dallas, hulle bondeltjie vreugde, sy opwagting gemaak het, het die trotse ouers Duane en Tammy – ’n dosent by die Skool vir Musiek – nog in die Veritas-manskoshuis gebly, waar Duane sedert 2011 die huisvader was.

 

Vinger op die pols van mense en prosesse

 

Duane glo sy ervaring as huisvader van Veritas en nou van Heide maak hom die ideale keuse vir die pos van strategiebeampte, aangesien hy weet wat die verwagtings van studente is, en watter uitdagings hulle ervaar.

 

Benewens dat hy studente verstaan, gee sy vorige ervaring op die Mahikeng- en later die Potchefstroomkampus vir hom insig in die daaglikse lewe van die personeel en prosesse wat die NWU se ratte geolie hou.

 

Sy tydperk op die Mahikengkampus het in 2004 begin toe hy as dosent in handelsreg by die kampus aangesluit het. Hy het in daardie jare ook op die Senaat gedien, was voorsitter van die studente- dissiplinêre komitee en was een van die kampus se verteenwoordigers in die opstelling van die eerste taalbeleid van die NWU.

 

Daar was ’n klein rigtingverandering toe hy in 2007 Potchefstroom toe verskuif het, waar hy by die nuutgestigte program in forensiese rekenmeesterskap in strafreg begin klasgee het.

 

Duane glo sy ervaring met personeel en studente op twee van ons drie kampusse sal uiters waardevol wees in sy nuwe pos.

 

Die probleemoplossingsvaardighede wat hy verwerf het voordat hy by die NWU aangesluit het, kom ook handig te pas. Die feit dat hy in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Nasionale Beskermingsgesag van Suid-Afrika en ’n kommersiële forensiese praktyk van PricewaterhouseCoopers gewerk het, het hom voorberei vir die uitdagings wat hy as strategiebeampte kan ervaar.

 

Pak die uitdagings onder die spervuur aan

 

Duane volg die vorige strategiebeampte, Robert Kettles, op en hy moet bakstaan.

 

“My onmiddellike doel sal wees om die NWU te help om die uitdagings te oorkom wat die Covid-19-pandemie meegebring het, aangesien dit die potensiaal het om die NWU se strategie te ontspoor en ons te verhoed om ons doelwitte te bereik,” sê hy.

 

Kyk ’n mens na sy loopbaanpad tot dusver, lyk dit of Duane goed voorbereid is om hierdie uitdagings met groot bekwaamheid te hanteer en die NWU op koers te hou om sy strategie te laat realiseer.

 

’n Nuwe baba, ’n nuwe werk en ’n nuwe tuiste. Dit is die driekuns van goeie nuus wat dr Duane Aslett in 2020  behaal het. 

 

Klik op die sirkels om meer te lees.

NUWE STRATEGIE-BEAMPTE