>

>

REDAKSIONEEL

Maak jou hart oop vir verskille

KLIK OM MEER TE LEES

Waarom sukkel sommige van ons om mense te aanvaar wat anders as ons is?

 

Is dit omdat ons glo dit is veiliger in ’n groep – veral as die mense in die groep aan dieselfde trop as ons behoort? Of is dit omdat ons mense se verskille beskou as stille kritiek op die feit dat ons “nie anders” is nie?

 

In hierdie uitgawe van Eish! kan jy lees oor talle mense wat bo die massa uitstyg. Nie alle bedryfsielkunde-studente kan byvoorbeeld so ’n kishou slaan soos Marelie Botha kan nie, en nie alle 25-jariges het ’n doktorsgraad soos Kenny Mnisi het nie.

 

By die NWU is daar talle mense met verskillende seksuele oriëntasies, of wat van verskillende kultuurgroepe is, of wat verskillende tale praat. Die feit dat hulle verskillend is, bepaal nie watter soort mense hulle is nie. ’n Gay man wat Setswana praat, kan ’n ware sonstraal wees, terwyl ’n heteroseksuele vrou wat Afrikaans praat ’n dreigende donderstorm kan wees wat in die verte opbou. Of andersom.

 

Die NWU is tans besig met ’n Ubuntu-veldtog om ons te wys hoe om ons verskille in te span om mekaar beter te verstaan. Wees op die uitkyk vir die volgende uitgawes van Eish!, waarin ons jou saam met ons op hierdie Ubuntu-reis gaan neem.

 

Ons hoop hierdie veldtog sal ons leer om mense te aanvaar vir wie hulle is, eerder as om hulle te vermy, te veroordeel of seer te maak. In ’n artikel wat dr Rick Hanson vir Psychology Today geskryf het, sê hy: Aanvaarding is ’n geskenk wat na jou toe terugkom.

 

Inderdaad. Aanvaarding sal ons help om waarde te heg aan die idee dat ons deel van ’n groter geheel is, al is ons nie almal dieselfde nie. Dit kan selfs daartoe lei dat ons die eenvoud van suiwer menswees waardeer – gestroop van die uiterlike verskille, met net die basiese elemente van vlees en been en hart wat oorbly. Veral die hart.

 

Lekker lees!