>

LEES MEER

>

Gender Benefit Network en LGBTIQ+ =

menseregte

’n Groep studente van die NWU se kampus in Vanderbijlpark het onlangs ’n LGBTIQ+-studentegeleentheid gehou. Prof Robert Balfour, die adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, was een van die gaste.

Die NWU se Gender Benefit Network (GBN) is ’n vrywilligernetwerk van personeel en studente en ook mense van buite die NWU wat menseregte oor die algemeen bevorder, en veral aktief is op die gebied van gender en diversiteit by die NWU.

KLIK OP DIE LETTERS HIERBO OM MEER TE LEES OOR KAMPUSAKTIWITEITE.

Prof Robert Balfour, die adjunk-visekanselier vir onderrig en leer en beskermheer van die GBN, sê die netwerk is in 2017 gestig. “Sommige individuele lede ondersteun die studente-organisasies deur fondse te skenk. Ander is aktiewe lede wat help om geleenthede te organiseer en studente by te staan,” sê hy.

 

Befondsing om goeie idees te ondersteun

 

“Ons het vroeg reeds gesien studente sukkel om fondse vir hul aktiwiteite by die NWU in te samel. Aangesien hierdie groepe gewoonlik klein is, is die kapasiteit beperk om goeie idees en inisiatiewe wat befondsing nodig het, te ondersteun. Hierdie soort beperkings maak dit dikwels moeilik vir groepe om hulself te organiseer en aan die gang te hou, om nie eers te praat van die bewusmaking van gender- en seksuele oriëntasiekwessies onder die studentegemeenskap nie.”

 

Hy sê die NWU-bestuur is bewus dat ’n wye spektrum van die publiek mense ondersteun wat as lesbies, gay, biseksueel, transgender, genderdivers, interseks en queer (LGBTIQ+) geïdentifiseer word, hoewel hulle nie noodwendig self lede van hierdie groep is nie. “Ons het besluit om ’n netwerk te stig van simpatieke individue wat óf hul tyd óf hul geld bydra om gebeurtenisse en studente te ondersteun.”

 

Neem deel aan Vrouemaand

 

Hy sê die GBN ondersteun die gebeurtenisse van die LGBTIQ+ wat regdeur die jaar by die NWU plaasvind.

 

’n Opwindende program word van 2 tot 8 Augustus vir Vrouemaand beplan, met ’n besondere inisiatief met die tema Genderbewustheidsweek. ’n Reeks verskillende geleenthede, soos studente-personeel-werkswinkels, seminare en ’n uitstalling sal deel van die verrigtinge wees.

 

“Almal moet deel wees van hierdie belangrike inisiatief en kan hul ondersteuning deur aktiewe deelname en skenkings toon,” sê Robert.

Vir meer inligting oor die GBN, kontak prof Robert Balfour by 018 285 2106. As jy tot die GBN-fonds wil bydra, kan jy ’n debietorder aanvra of ’n deposito in die volgende rekening maak:

Rekeninghouer se naam: Noordwes-Universiteit

Rekeningnaam: NWU Diverse

Rekeningnommer: 670642313

Tipe rekening: Tjek

Taknaam: ABSA Tomstraat

Takkode: 632005

Swift-kode: ABSAZAJJ

Verwysing vir jou debietorder: Campus Pride

Die NWU administreer die fonds deur middel van die universiteit se normale finansiële stelsels en dit word deur die Kantoor vir Studentelewe en die administrasie van studente-organisasies ondersteun.

 

Aansoeke om die befondsing te gebruik, kom gewoonlik van die voorsitters van die kampusgebaseerde studentegroepe, of van akademici en personeel wat graag ’n geleentheid wil organiseer wat met genderbewustheid of kwessies rakende identiteit en verteenwoordiging verband hou.