Die inentingsveldtog het op Vrydag 16 Julie begin en oor die naweek in die Great Hall in Mahikeng en die Dampad-eetsaal in Potchefstroom voortgeduur. Hierdie sentrums is deur Noordwes se provinsiale regering as inentingsuitreiksentrums geïdentifiseer.

 

Sedert die veldtog begin het, is meer as 8 000 dosisse van die Johnson & Johnson- en Pfizer-entstof by die sentrums op ons kampusse in Potchefstroom en Mahikeng toegedien.

 

As gevolg van die feit dat die Vanderbijlparkkampus in Gauteng geleë is, kon die ooreenkoms ongelukkig nie hierdie kampus insluit nie, maar personeellede en hulle gesinne wat na Potchefstroom gereis het, is by daardie sentrum gehelp.

 

Die inentings was oorspronklik net vir geregistreerde NWU-personeellede, hulle gesinne en huishulpe bedoel, maar namate die inligting mondelings en deur sosiale media versprei is, het talle lede van die publiek wat geregistreer is om inentings te ontvang, ook in die tou kom staan.

 

Die veldtog was so ’n dawerende sukses dat verdere datums by die inentingskedule gevoeg is – 6 tot 7 Augustus in Mahikeng en 7 tot 8 Augustus in Potchefstroom. Bykomende datums mag moontlik binnekort gekommunikeer word.

 

Hope positiewe terugvoer

 

Prof Awie Kotze, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, wat in beheer van die inentingsveldtog was, sê hulle het by die sentrums asook op sosiale media positiewe terugvoer van personeel en gemeenskapslede ontvang.

 

“Dit was wonderlik om die passie, doeltreffendheid en vriendelikheid te ervaar van elke persoon wat by hierdie veldtog betrokke was. Dit was bemoedigend om te sien hoeveel mense gekom het om ingeënt te word, en om die positiwiteit regdeur die hele naweek te ervaar,” sê hy wanneer hy na die eerste inentingsnaweek verwys.

 

“Dit is baie harde werk om groot getalle mense in te ent, en dit verg absolute toewyding van almal wat betrokke is. Ons is baie trots op almal wat by die veldtog betrokke was.”

 

Hy sê die NWU kon in ’n relatief kort tyd hierdie noodsaaklike diens verskaf om in die behoeftes van Suid-Afrika te voorsien. “Die goeie samewerking met Noordwes se provinsiale regering het ons in staat gestel om hierdie diens doeltreffend te lewer.”

 

Deel van ’n groter netwerk

 

Awie sê die NWU se sentrums is deel van sewe sentrums vir massa-inentings in die provinsie.

 

“Ons het die eerste sentrums geopen, en verteenwoordigers van ander sentrums het die NWU besoek om te sien hoe ons dit doen. Ander sentrums sal Klerksdorp en Rustenburg insluit.”

 

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, het al die NWU-personeel,  studente en belanghebbers bedank dat hulle as vrywilligers by die sentrums gewerk het.

 

“Ons as die NWU-familie is trots op die wonderlike werk wat gedoen is om te verseker dat almal wat gekwalifiseer het, hulle inentings ontvang het. Met hierdie geweldige toewyding en doeltreffendheid lewer ons ’n groot bydrae om die pandemie te help hanteer.”

 

Hy sê die NWU-familie se harde werk tydens die inentingsveldtog is ’n voorbeeld van die universiteit se sorgsaamheidsetiek en diepe verbintenis tot gemeenskapsbetrokkenheid.

NWU-familie maak die inentingsveldtog ekstra spesiaal

 

Die positiewe gees wat die inentingsveldtog omring het, het talle bemoedigende inisiatiewe ingesluit.

 

Dit sluit in die kantoor van die NWU se maskot, Eagi, wat meer as 30 komberse gebring het om vrywilligers warm te hou, en die Thuso Covid-19 Compliance Buddies, wat onder leiding van Juan-Ri Potgieter hulle deel as vriendelike en doeltreffende toesighouers gedoen het.

 

’n Spesiale kinderoppasdiens was ook een van die hoogtepunte, waar ouers hulle kinders in die veilige sorg van vrywilligerstudente in maatskaplike werk en sielkunde kon laat terwyl hulle hul inentings ontvang het.

 

Lede van die gemeenskap het ter viering van Mandeladag ook bydraes gemaak. Dit het ingesluit dat Fruit Hub as gebaar van dankbaarheid bokse vrugte aan werkers by die inentingsentrum in Mahikeng geskenk het.

 

“Dit is baie belangrik om teen Covid-19 ingeënt te word. Ons werk aan soortgelyke projekte vir NWU-personeel en lede van die publiek om by die uitreiksentrums ingeënt te word. Ons sal meer inligting in hierdie verband deurgee,” sê Awie.

 

 

30 komberse geskenk aan vrywilligers

Vrugtebokse geskenk aan vrywilligers

Vriendelike
toesighouers

Gratis kinderoppas-diens

Die visekanselier, prof Dan Kgwadi, en Eagi sê dis belangrik om ingeënt te word.

by die NWU se uitreiksentrums is ’n dawerende sukses

Die Covid-19-inentingsveldtog in Suid-Afrika het ’n hupstoot gekry met duisende lede van die publiek, insluitende personeellede van die NWU, hulle gades en lewensmaats, wat hulle inentings by twee NWU-uitreiksentrums ontvang het.

Klik op die beeld hierbo om ’n video van die inentingsveldtog te sien.

Skenkings ontvang en dienste gelewer

INENTINGSPROSES

Vrugtebokse