Met 2020 wat einde se kant toe staan, begin ons fokus op wat 2021 vir ons mag inhou. eish! het ’n paar van ons kollegas gevra wat hulle wense vir die nuwe jaar is.
Hosia Kgoa
Bestuurder van Tydroosters en Assessering, Studente- Akademiese Lewensiklusadministrasie, Mahikengkampus
My eerste wens vir 2021 is ’n beter ekonomiese groeikoers vir Suid-Afrika en die hele wêreld, aangesien dit hoër lewenstandaarde en ’n hoër reële inkomste sal meebring, asook die vermoë om meer hulpbronne na gebiede soos gesondheidsorg en onderwys te kanaliseer.
Tweedens wens ek dat daar ’n 100% doeltreffende entstof gevind sal word om die eskalasie van die Covid-19-pandemie te voorkom en om menselewens te red. Intussen, terwyl ons vir die entstof wag, wens ek dat al die mense in ons land die nodige protokolle sal handhaaf, soos om hulle hande te was, te saniteer en sosiale distansiëring te handhaaf.
Derdens wens ek dat die NWU-gemeenskap vinnig by die nuwe digitale strategie van die universiteit sal aanpas. Elke NWU-gemeenskapslid sal dan in staat wees om ’n konsekwente handelsmerkboodskap oor te dra wat tot ’n gemeenskaplike handelsmerkbeeld sal lei.
Dr Naledi Seheri
Senior lektor, Skool vir Fisiese en Chemiese Wetenskappe, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, Mahikengkampus
My wense vir 2021 sluit die viering van die mylpaal in dat ek nou 20 jaar lank by die Mahikengkampus is. Hoewel die pad nie altyd rooskleurig was nie, kry ek my krag van God en van die ondersteuning wat ek van my kollegas, familie, vriende en studente ontvang.
Ek wens ook om ’n positiewe onderrig-leer-omgewing vir my studente te skep. Niemand weet wanneer die Covid-19-pandemie tot ’n einde sal kom nie, maar dit is noodsaaklik dat studente aangemoedig moet word om ’n positiewe ingesteldheid te hê en om in al hulle akademiese en lewenspogings te floreer.
Ek sou ook graag my onderrig- en navorsingskundigheid wil uitbrei en verbeter deur samewerking en publikasies, en deur my navorsing te verbeter. Ek wil graag fiks en gesond bly, en regoor die wêreld reis om verskillende natuurparke te sien. Ek het onlangs met ’n nuwe stokperdjie – fietsry – begin, en hoewel ek ’n hele paar keer van my fiets afgeval het, wil ek deurdruk.
Mario Matos
Assistentlektor, Sosiale Studies in Onderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Potchefstroomkampus
Niemand kan ons blameer dat ons sukkel met vertroue ná ’n jaar wat oorheers is deur ’n pandemie en alles wat met disfunksie en ’n voortdurende gevoel van neerslagtigheid gekenmerk is nie. Sonder om verdere onheil oor ons uit te spreek, glo ek dat 2021 dit moeilik gaan vind om by 2020 kers vas te hou.
My wens vir 2021 is dat die mensdom selfs in ’n groter mate kan leer om onbevooroordeeld te wees, meer deernisvol teenoor mekaar te wees, eerbaar teenoor mekaar op te tree, en die dinge buite ons beheer te aanvaar. Mag ons onsself meer krediet gee, ons foute erken vir wat dit is, en toelaat dat elke ervaring ons karakter vorm. Mag ons geesdriftig wees in alles wat ons aanpak.
Ek wil ook graag sien dat ons almal sal volhard om ons doelwitte te bereik, en dat ons die lewe sal aanpak met ’n gevoel van aspirasie en ambisie sodat ons geesdriftigheid die wêreld sal aansteek. Bly nederig ná elke prestasie, wees veerkragtig ná elke terugslag en koester die lewensveranderende ervarings. Moenie vergeet om te bid nie, en moenie jouself in die steek laat nie!
Desmond Phuti
Projekbestuurder, Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe, Potchefstroomkampus
Ek het begin om ernstig op my gesondheid en fiksheid te let – ek stap daagliks 10 km in die oggend en het 10 kg afgeskud net deur te stap. As dit God se wil is, bid ek dat ek ’n gesonde leefstyl sal handhaaf wat my in staat sal stel om voort te gaan om vir my gesin te sorg.
Die NWU is sedert 2004 my werkplek en ek het gesien hoe ons vooruitgaan en ’n regmatige plek onder die universiteite van die wêreld inneem. Ek bid dat die NWU sal voortgaan om met leiers van wêreldgehalte op die gebied van akademiese uitmuntendheid, bestuur en beheer geseën te word.
Ek sien ook uit na ’n korrupsievrye Suid-Afrika, ’n Suid-Afrika wat betekenisvolle en volhoubare werk kan verskaf, vry van alle vorms van misdaad, en meer spesifiek geslagsgebaseerde geweld.
Prof Diana Viljoen-Bezuidenhout
Dosent en navorser, Skool vir Ekonomiese Wetenskappe, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe, Vanderbijlparkkampus
My wens vir 2021 is dat geslagsgebaseerde geweld (GBV) in dieselfde mate hanteer moet word as wat ons as land Covid-19 hanteer het.
Ons verloor daagliks vroue en kinders aan die gruwels van GBV. Hulle lewens en hulle lig word op die grusaamste omstandighede uit die wêreld weggeneem, en daar moet iets meer wees wat ons kan doen om ’n bewustheid van hierdie gewelddadige optrede te skep.
Ek glo dat dit ’n volgehoue en gesamentlike poging deur alle sfere van die regering, gemeenskapsleiers en -groepe sal moet wees om diegene wat hierdie dade pleeg vir hulle optrede aanspreeklik te hou, en om die boodskap uit te stuur dat geweld teen vroue en kinders nie langer geduld sal word nie.
Ons moeders, tannies, niggies, susters en dogters moenie elke oggend wakker word en hulself afvra “Is ek volgende?” nie.
Relebogile Sekati
Senior administratiewe assistent, Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronnebestuur, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Vanderbijlparkkampus
My wens vir die NWU is dat ons universiteit die befondsing sal kry om genoeg skootrekenaars vir minderbevoorregte studente te kan koop. Dit kan studente help om hulle minder te bekommer en eerder daarop te fokus om goeie uitslae te behaal. Bepalings en voorwaardes moet vanselfsprekend geld wanneer skootrekenaars uitgereik word.
Vir ons land wens ek dat Suid-Afrika ’n verenigde front sal raak om armoede te help uitwis en te help om ons onderwys- en gesondheidstelsels, veral in die openbare sektor, te verbeter.