ELEKTRONIESE STELSEL VIR WERKPLEKBESTUUR

gaan ons lewens makliker maak

NUWE

Pas aan of loop die gevaar om agter te bly! Die NWU het op hierdie waarskuwing ag geslaan en op 30 November 2020 sy projek oor die nuwe stelsel vir geïntegreerde werkplekbestuur bekendgestel.

 

Eenvoudiger gestel sal hierdie elektroniese stelsel personeel in staat stel om werkplekverwante versoeke met die druk van ’n paar knoppies na die Fasiliteite-departement te stuur.

 

Byvoorbeeld: wil jy graag die lig in jou kantoor reggemaak hê? Klik-klik, en jou versoek seil deur die kuberruim na ’n elektroniese dienstoonbank waar dit verwerk sal word sodat jy vinnige diens kan ontvang.

 

Met die implementering van hierdie stelsel sluit die NWU by die wêreldwye wedloop aan om doeltreffende, koste-effektiewe maniere te kry om sake te doen – instellings van hoër onderwys, insluitende die NWU, is immers nie vrygestel daarvan om by toekomstige veranderings aan te pas nie.

 

Talle voordele

 

Bo en behalwe dat die stelsel ons help om met die Vierde Industriële Revolusie by te hou en ons werkslewens makliker maak, is dit ook in ooreenstemming met die 17 elemente van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se makro-infrastruktuurraamwerk. Dit is belangrik, aangesien voldoening daaraan beteken dat ons toekomstige befondsingsbehoeftes verseker word.

 

Wat meer is, die nuwe stelsel sal ons ook help om die diensleweringsmomentum wat ons in 2020 verkry het, te handhaaf.

 

Ten spyte van die vernietigende Covid-19-pandemie het die instelling sy lewering ten opsigte van onderrig, leer en navorsing voortgesit – en die nuwe stelsel sal ons help om dit vol te hou.

 

Waaroor gaan hierdie nuwe stelsel?

 

Die doel van die stelsel is om die fasiliteite- en infrastruktuuromgewing in die fasiliteite, IT, besigheidsondernemingsontwikkeling en verwante departemente binne die NWU te optimaliseer.

 

Die ingefaseerde implementering van die nuwe geïntegreerde stelsel sal verg dat ons ons prosesse en werkswyses moet verander om by die vereistes van die beoogde stelsel aan te pas.

 

Hulp is altyd byderhand

 

As dit alles skrikwekkend klink, moenie bekommerd wees nie! Opgeleide kundiges sal byderhand wees om jou op hierdie opwindende reis van die geïntegreerde werkplekbestuurstelsel te vergesel.

 

Wanneer die nuwe stelsel geïmplementeer word, sal almal nie op dieselfde manier geraak word nie. Wees dus op die uitkyk vir spesifieke hulp oor hoe die stelsel jou funksionele area gaan raak.

 

Wat kan ons verwag?

 

Om mee te begin, gaan die werkplekbestuursaspekte van die projek (insluitende ons terrein, geboue, kantore en ander geriewe) in drie fases geïmplementeer word, met die eerste een wat op 1 Februarie 2021 gaan begin.

Klik op elke blok hieronder om meer te lees.

  • FASE 1

     

    Die eerste fase gaan die reaktiewe instandhouding en diensversoeke hanteer, en sal uitloop op die vestiging van ’n dienstoonbank van die Departement van Fasiliteite en Instandhouding om al die fasiliteite- en instandhoudingsversoeke van personeel te hanteer.

  • FASE 2

     

    Die tweede fase van die projek sal al die volgende aspekte hanteer:

     

    • Ruimtebestuur (inligting oor ruimte, toewysing van ruimtes, die bestuur van verskuiwings en die bespreking van lokale)
    • Toewysing van beddens in koshuise vir studente
    • Beplande instandhouding
    • Batebestuur, byvoorbeeld die bestuur van die bateregister

     

  • FASE 3

     

    Die derde en finale fase sal aandag skenk aan die meer langtermyn- en strategiese aspekte soos:

     

    • Kapitaalprojekbestuur
    • Die bestuur van huurkontrakte
    • Insidentbestuur vir beroepsgesondheid en veiligheid, byvoorbeeld om beserings by die werk te rapporteer