TUIN TOE LOK

Hierdie plante sal voëls en insekte na jou

Jou tuin kan ’n pragtige, rustige plek wees – vol van die geluide van voëls en insekte. Al wat jy nodig het, is om verskillende habitats te skep wat aan hulle behoeftes voldoen deur plek vir neste, skuiling en voedsel te verskaf.

Dit is die raad wat Chris van Niekerk, kurator van die Botaniese Tuin op die Potchefstroomkampus, vir eish!-lesers het wat voëls en insekte na hul tuine toe wil lok.

 

“Wanneer jy plante vir jou tuin kies, hou die klimaat in gedagte, asook die grootte van die plantspesie wanneer dit uitgegroei is,” stel hy voor. “Kies plante wat die winterkoue sal weerstaan en nie te groot sal word vir die ruimte waar dit geplant is nie. Die doel is om skuiling, nektar, stuifmeel en saad/vrugte te verskaf om ’n verskeidenheid natuurlewe te lok.”

 

As jy ʼn groot tuin het, plant boomspesies wat voëls sal aanmoedig om daarin nes te maak. Goeie keuses is die wildeperske (kiggelaria africana), witstinkhout (celtis africana), olienhout (olea europaea Africana), karee (searsia lancia) en blinkblaar-wag-’n-bietjie (ziziphus mucronata).

 

Kleiner spesies wat vir kleiner tuine geskik is, is die wildepeer (dombeya rotundifolia), bergvaalbos (brachylaena rotundata), saliehout (buddleja salviifolia), deurmekaarbos (ehretia rigida), bloubos (diospyros lycioides) en keiappel (dovyalis caffra).

 

Nektarvreters soos suikerbekkies, glasogies, vinke en spreeus kan gelok word deur nektarryke spesies met tuitvormige blomme soos aalwyne, varkoorplakkies (cotyledon orbiculata), Kaapse kanferfoelie (tecomaria capensis), vuurpyle (kniphofia), agapante, heuningblom (melianthus major), heuningklokkiebos (freylinia lanceolate), notsing (halleria lucida) en wildedagga (leonotis leonurus) te plant.

 

Die meeste van hierdie plante het ’n bloeiwyse wat uit talle blomme bestaan wat op verskillende tye oopmaak om nektar vry te stel.  Julle sal sien dat suikerbekkies die tuin op dieselfde tyd elke dag besoek en na die blomme soek wat pas oopgemaak het.

 

Om duiwe, spreeus en muisvoëls te lok, plant plante wat bessies of vrugte dra. Spesies soos die olienhout, blinkblaar-wag-’n-bietjie, witstinkhout, Afrika-blinkblaar (rhamnus prinoides) en gwarrie (euclea) is gewild onder vrugtevreters.

 

Om nesboumateriaal en sade te verskaf, kan polvormige inheemse grasse as ornamentele plante geplant word.

 

Saadvretende voëlspesies soos vinke, kanaries en sysies soek op die grond na sade. Geskikte grasspesies sluit breëblaarborselgras (setaria megaphylla), buffelsgras (panicum maximum), hartjiesgras (eragrostis capensis), veergras (stipa dregeana) en katstert (asparagus densiflorus) in.

 

Omnivoor- en insekvretende voëls soos fiskale, kokkewiete en rooiborsies sal help om tuinplae te beheer. Plantspesies wat insekte na jou tuin kan lok, sluit katsnor (becium obovatum), die Afrika-aartappel (hypoxis hemerocallidaea), gansogie (cotula sericea), vrouebossie (geranium incanum), bitterbos (scabiosa columbaria) en die Kaapse gousblom (arctotheca calendula) in.

 

In die aand maak uile jag op rotte, muise en molle wat uit hulle gate kruip. As jy uile in jou omgewing gewaar, oorweeg dit om ’n uilskuiling in ’n groot boom of teen ’n suidelike muur te bou om hierdie voëls na jou tuin toe te lok.

 

Onthou laastens om ’n waterbron in jou tuin te installeer.

 

Voëls vereis nie ingewikkelde waterstrukture nie – ’n eenvoudige voëlbad of maalklip sal voldoende wees. Moenie houers met steil en diep kante gebruik nie. Voëls hou van houers met vlak hellings wat hulle in staat stel om in te stap en in die water te bad.

Chris van Niekerk, die kurator van die Botaniese Tuin op die Potchefstroomkampus, vertel vir ons watter plante voëls en insekte na ons tuine lok.