Dierkunde se bestes

Twee uitblinkerstudente van die NWU se vakgroep Dierkunde is deur die Dierkundevereniging van Suid-Afrika vir hul hoë standaard akademiese werk vereer.

Geraldine Oosthuizen gaan ʼn haai se organe na vir parasiete by die KwaZulu-Natalse Haaieraad.

Geraldine Oosthuizen (honneurs) en Chané Kleynhans (derdejaar) wat die beste in hul 2019-jaargroep gevaar het, het die toekennings ontvang wat die Dierkundevereniging van Suid-Afrika jaarliks aan die beste derdejaar- en honneursstudente in dierkunde by Suid-Afrikaanse universiteite maak.

 

Buiten dat die studente se werk aan ʼn hoë standaard moet voldoen, word ander faktore soos leierskapseienskappe, hul belangstelling in dierkunde en dat hulle dierkunde as loopbaan kies, ook in ag geneem.

 

Binnelander bestudeer marieneparasiete

 

Geraldine is tans deel van die Waternavorsingsgroep en haar meestersgraadnavorsing gaan oor sestodes, ’n parasitiese wurm wat elasmobranchii – ’n groep visse wat spesies soos haaie, pylsterte en rôe insluit – besmet.

 

Sy sê hul navorsing fokus op spesies wat uniek tot Suid-Afrikaanse waters is. Haar studieleier is dr Bjoern Schaeffner wat tans ʼn nadoktorale genoot by die Waternavorsingsgroep is. Prof Nico Smit is haar mede-studieleier.

 

“Ek veronderstel dat mense dit eienaardig kan vind dat ek marieneparasiete bestudeer, aangesien ek van ’n binnelandse dorpie kom en aan ’n binnelandse universiteit studeer, maar dit wys jou net dat ’n mens jou drome op enige plek ter wêreld kan najaag.”

 

Sy het al van kleins af 'n passie vir diere en dit het haar in die rigting van dierkunde gestuur. Sy is ʼn boorling van Middelburg in Mpumalanga en het aan die HTS Middelburg gematrikuleer.

 

Stedeling fokus op biodiversiteit en bewaring

 

Chané is tans besig met haar honneursgraad in omgewingswetenskappe, met biodiversiteit en bewaringsekologie as fokuspunte.

 

“Ek kom van Johannesburg af, maar was van kleins af gefassineer deur die natuur. Al het ek in ʼn stad grootgeword, het ek enige kans om in die natuur te kon wees, aangegryp.

 

“Die passie wat my onderwysers by Hoërskool Linden vir hul werk gehad het, het ʼn groot impak op my keuses gemaak en ek is hulle ewig dankbaar dat hulle my in dié rigting gelei het.”

 

Chané sê sy glo dit is nie genoeg om net slim te wees nie; dis harde werk wat mens uiteindelik sukses laat bereik.

 

Sy beplan om aanstaande jaar met haar meestersgraad in omgewingswetenskappe voort te gaan en sal dan besluit of sy met navorsing sal aangaan, of die akademie vir ʼn beroep sal verruil.

 

Albei studente is vir die volgende jaar komplimentêre lede van die Dierkundevereniging van Suid-Afrika.

NASIONAAL

VEREER

Chané Kleynhans is in een van die NWU se laboratoriums besig met haar navorsing.