Laat jou woorde ʼn geskenk wees aan jouself en ander

Vrees en angs is waarskynlik van die ongemaklikste emosies wat ons ervaar sedert die inperking begin het.

ʼn Skryfprojek wat op ʼn etiek van sorgsaamheid gegrond is, is net die regte medisyne in hierdie uitdagende tyd. Dit is waarom die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe se navorsingsentiteit, Global Innovative Forefront Talent (GIFT), besluit het om alle NWU-personeellede te nooi om hul gedagtes en ervarings neer te skryf, wat dan in ’n boek gepubliseer sal word.

 

Heling in die doodse winter

 

Prof Anna-Marie Pelser, wat aan die hoof van die GIFT-entiteit staan, het aan hierdie inisiatief gedink omdat sy ook in hierdie tyd ’n baie persoonlike ervaring gehad het.

 

“My ma is tydens die staat van inperking oorlede en ek moes alles aanlyn reël,” sê sy. Dit was baie pynlik, maar die ondersteuning wat sy van haar man en haar dogter gekry het, het haar deur hierdie moeilike tyd gedra.

 

Sy vertel ook hoe sy en haar gesin tydens die inperking nader aan mekaar gekom het, en hoe hulle lukrake geselsies dit makliker gemaak het om binnenshuis vasgevang te wees.

 

Die waarde van woorde

 

Daar is bewyse dat wanneer ’n mens jou gedagtes en gevoelens neerskryf, dit jou kan help om dit beter te verstaan, veral as jy met stres of angs sukkel. Gedagtes kan weer na vore kom, en om dit neer te skryf, help jou om negatiewe gedagtes die trekpas te gee.

 

“Ek hou baie van skryf. Ek skryf gedigte en kort stukkies, en ek het snaakse stories en plasings raakgesien wat mense op verskillende platforms gedeel het. Dit het regtig gehelp om die gemoed van so baie mense ligter te maak,” voeg Anna-Marie by. “Vir my spreek dit van ʼn etiek van sorgsaamheid.”

 

“Wat ek dus wil doen, is om die NWU-gemeenskap uit te nooi om ’n gedig, storie of persepsie van die uitwerking wat die pandemie op hulle gehad het en hoe dit in hul lewens verander het, in te stuur,” sê Anna-Marie.

 

“Ons kan mekaar op hierdie manier leer ken, aan onsself of aan mekaar erkenning gee, en selfs ’n lawwe oomblik deel.”

 

Alle bydraes kan aan ampelser@hotmail.com of anna.pelser@nwu.ac.za gestuur word. Stories kan in Engels, Afrikaans of Tswana ingestuur word. Stuur asseblief ’n foto saam met jou storie, asook ’n kort stukkie oor wat jou gemotiveer het om te skryf.

 

“Ek is bewus daarvan dat almal besig is, maar stuur asseblief al die stories nie later nie as 21 Augustus 2020. Al die stories sal net so geplaas word – geen veranderings sal aangebring word nie.”

 

Daar word per slot van sake gesê dat ’n gedig uit die grootste vreugde of diepste hartseer kom.

“Deur talentbestuur behou ons ons toekoms.”

 

Prof Anna-Marie Pelser,

waarnemende direkteur van GIFT.