So lyk ons nuwe normaal

 

Oudio- en videokonferensies, aanlyn vergaderings en geleenthede en webinare het nou die nuwe normaal geword sover dit werk tydens inperking betref.

 

Aangesien lede van die universiteitsgemeenskap die afgelope paar maande oor 'n afstand gewerk het, het dit duidelik geword dat die vergaderingsmetodes verander het, en dat personeellede by die nuwe virtuele werksomgewing moet aanpas.

 

Daarom bewys personeel van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe op die Vanderbijlparkkampus dat hulle amper alles wat hulle voor die inperking op kantoor gedoen het, ook met groot sukses vanaf ’n afstand kan doen. Dit is duidelik uit die span se unieke benadering tot spanbou.

Het jy onlangs vir Wonder Woman, Ironman, Hannah Montana en Andy Capp op jou aanlyn werksvergaderings ontmoet? Nie? Wel, die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe het, en hulle het ’n fees gehad.

Volgens die skooldirekteur, prof Heleen Janse van Vuuren, kan vergaderings in ’n aanlyn omgewing en heeldag se werk op ’n skerm uitputtend wees en ’n negatiewe effek op die energievlakke van die deelnemers hê.

 

Om teen aanlyn uitputting te waak, het die skool hul sosiale span nader geroep om innoverende maniere te vind om nie net groter betrokkenheid te verseker nie, maar ook om deelnemers weer woema te gee om hul heel beste na elke vergadering te bring.

 

Almal goed op dreef

 

Die sosiale span, bestaande uit Ashley Pietersen, Boipelo Moncho en Jesse Manickum, het nie teleurgestel nie. Hulle het die skoolvergaderings in geleenthede vir spanbou omskep, en dit lyk asof dit grootliks bydra om kollegas te help om pret te hê wanneer hulle in ’n virtuele ruimte bymekaar kom.

 

Die drietal het hul innovasie-hoede opgesit en elke deelnemer aan ’n aanlyn vergadering laat inteken met ’n skuilnaam wat hulleself die beste beskryf. Daar was karakters soos Wonder Woman, Ironman, Hannah Montana en Andy Capp. Lede van die sosiale span het die skermname aangekondig en die kollegas het die geleentheid gehad om te raai wie dit is.

 

By ’n tweede vergadering het die sosiale span die deelnemers met ’n speletjieprogram uitgedaag. Anneke Moolman is as die vasvrakampioen gekroon nadat sy die meeste punte bymekaargemaak het. En net sodat julle weet, die vrae was glad nie maklik nie! Het julle geweet dat McDonald’s byvoorbeeld die grootste verspreider van speelgoed ter wêreld is?

 

“As daar een ding is wat ek en my span tydens hierdie pandemie geleer het, is dat daar geen rede is waarom ons nie ons sosiale eenheid as kollegas en vriende kan vier nie,” sê Heleen.

 

Sy voeg by dat elke lid van die skool nou uitsien na die volgende vergadering, en dat hulle gretig wag om te sien aan watter uit-die-boks-aktiwiteit hulle volgende keer gaan deelneem.

Rekenmeesters Zoom in vir spanbou tydens inperking

Rekenmeesters Zoom in vir spanbou tydens inperking

Prof Heleen Janse van Vuuren se skuilnaam was Gladys.

DIE EINDE

Het julle geweet?

 

  • Daar word beraam dat die getal mense wat daagliks aanlyn vergaderings wêreldwyd bywoon van 10 miljoen deelnemers in Desember 2019 tot meer as 200 miljoen in Maart 2020 gestyg het.
  • Benewens Skype en Microsoft Teams, was virtuele vergaderingsplatforms soos Zoom tydens die pandemie baie gewild. Dit is van die meeste platforms wat afgelaai word, en is besig om die kern van besigheidskommunikasie te word. Die gemiddelde duur van ’n videokonferensie is 31 tot 60 minute.