Elmarie de Beer, uitvoerende direkteur vir finansies en fasiliteite.

Die Covid-19-pandemie veroorsaak regoor die wêreld ekonomiese verwoesting, en ons as die NWU kan dit nie ontsnap nie.

FOKUS OP

eish! het vir Elmarie de Beer, die uitvoerende direkteur vir finansies en fasiliteite gevra wat die finansiële impak van die pandemie op die universiteit is en hoe ons hierdie finansiële storm gaan oorleef.

 

V: Wat is die grootste finansiële impak van die staat van inperking op die NWU?

A: Hoewel die presiese finansiële impak van die Covid-19-pandemie op die NWU en die hoëronderwyssektor onbekend is, is dit duidelik dat finansiële verliese onvermydelik sal wees.

 

V: Hoe beïnvloed die staat van inperking ons inkomste?

A: Die staat van inperking gaan tot ’n verlies van inkomste lei, wat ’n geweldige impak op ons finansies gaan hê. Die rede hiervoor is dat ons begroting inkomstegebaseer is – met ander woorde ons inkomste bepaal wat ons aan die uitgawekant van die begroting kan bekostig.

 

Ons grootste bronne van inkomste is subsidies en onderriggeld, en enige verandering hier sal ’n groot invloed op ons finansies hê. Voorbeelde van sulke veranderings kan wees dat die regering – as gevolg van ’n swakker nasionale ekonomie – subsidies kan verminder, of dat studente hul studies kan kanselleer.

 

Die probleem is dat die presiese impak op ons inkomste steeds onbekend is. Namate meer inligting beskikbaar raak, sal ons na die beste van ons vermoë moet beraam hoe die staat van inperking ons inkomste gaan beïnvloed sodat ons voorsorgmaatreëls aan die uitgawekant kan tref.

 

V: Wat is die invloed op ons uitgawes?

A: Ons het reeds ’n klomp nuwe en bykomende uitgawes, byvoorbeeld die R30 miljoen wat toegewys is om data en elektroniese toestelle aan ons studente te verskaf.

 

Ander uitgawes sluit in data vir ons personeel, die inwerkingstelling van die aanlyn leerproses, voldoening aan al die regulasies vir beroepsgesondheid en veiligheid, en die verskaffing van isolasiegeriewe.

 

V: Is daar enige besparings op ons gewone uitgawes?

A: Ja, ons bespaar op uitgawes soos reisgeld, verblyf en verversingskoste vir vergaderings. Ons sal ook aanvanklik op water en elektrisiteit bespaar, maar dit sal later uitgekanselleer word indien die akademiese jaar verleng word

 

Al hierdie besparings sal egter baie minder as ons bykomende uitgawes wees. Die grootste deel van ons uitgawes, naamlik salarisse, is ook vas.

 

V: Hoe gaan ons die negatiewe finansiële impak van Covid-19 beperk?

A: Ons het ’n finansiële model opgestel wat ons in ons besluitneming sal lei. Die model is omsigtig en buigsaam, en sal op of af aangepas word namate en wanneer meer inligting beskikbaar raak. Die doel van hierdie model is om te verseker dat ons mitigasieplan finansiële volhoubaarheid sal ondersteun, nie net vir 2020 nie, maar ook oor die langer termyn.

 

V: Vertel ons meer oor die mitigasieplan.

A: Ons mitigasieplan is gebaseer op kontantvloeibestuur, wat die dryfveer agter besigheidsbesluite is. Met ander woorde, die randwaarde van die voorspelde kontantvloeitekort sal bepaal watter bykomende besparings ons nodig het. Die mitigasieplan sluit ook die moontlike impak van die pandemie op ons 2021-2023-begrotings in.

 

V: Wat is die belangrikste dinge wat die NWU nou moet doen?

A: Daar is ’n paar sake waarop ons moet fokus:

  • Ons moet die onbekende bestuur namate en wanneer dit voorkom.
  • Ons moet die aanlyn leermodel ondersteun om enige moontlike negatiewe impak op die deurvloeikoers van ons studente te verminder – met ander woorde ons moet hulle bemagtig om die akademiese jaar suksesvol te voltooi. Ons moet ook ons bes doen om studente te behou.
  • Ons moet poste – in die medium sowel as die lang termyn – bewaar.
  • Wat finansies betref, is die belangrikste fokus op die bestuur van kontantvloei deur middel van die aanpassing van die 2020-begroting, en dan op die langer termyn op volhoubaarheid deur die impak te voorspel op die jare wat volg.

 

V: Wat kan ons as personeellede doen om te help?

A: Almal van ons – akademiese sowel as ondersteuningspersoneel – moet voortgaan om alles te doen wat ons kan om die akademiese jaar te red. Hierdie moeilike tye vereis toewyding, geduld en aanpasbaarheid om te help waar dit ook al nodig is.

 

Help ons om die NWU se finansies gesond te hou deur uitgawes te beperk tot daardie sake wat ons personeel en studente veilig deur hierdie onseker tye sal stuur.

 

V: ’n Laaste woordjie van jou kant af.

A: Die pandemie beïnvloed nie net ons 2020-finansies nie, maar sal ook ’n mediumtermyn-impak hê as gevolg van die voorspelde ekonomiese afswaai en die moontlike effek op ons hoofbronne van inkomste, naamlik die staatsubsidie en ons inkomste uit onderriggeld.

 

Ons is egter vol vertroue dat ons finansiële model die raamwerk vir omsigtige besluitneming sal verskaf en dat ons almal sal saamwerk om finansiële volhoubaarheid op die lang termyn te verseker.

COVID-19:

oorleef die finansiële storm