Kunstenaar Kobus Potgieter met een van sy gunstelingskilderye, wat geïnspireer is deur herinneringe aan sy pa wat as treindrywer gewerk het.

Die studente noem Kobus Potgieter “Oom Pottie”, maar dit moet seker uitgebrei word na “Oom Pottie Picasso”! Wat mense nie van Kobus –’n senior bedryfsbeheerbeampte by Beskermingsdienste in Vanderbijlpark – weet nie, is dat hy ook ’n talentvolle kunstenaar is.

 

Kobus sê as kind het hy ure deurgebring om potloodsketse te maak, en as leerder by die Hoërskool Standerton het hy veral mnr André van Staden se kunsklasse geniet. Dit was in 1970. Vandag skilder hy in sy vrye tyd en het hy sy forte in olie op doek gevind.

 

“Ek het my liefde vir teken van my oorlede pa, Philip, gekry, en dit is beslis ’n groot deel van wie ek vandag is,” sê Kobus. Hy voeg by dat die tyd wat hy met sy skilderpalet in sy hand voor ’n doek deurbring “voedsel vir sy siel” is.

 

Waar kry hy sy idees vandaan? “Oral! Ek was onlangs dokter toe en het in die wagkamer ’n skildery gesien wat my onmiddellik opgeval het. Onnodig om te sê, ek kon nie wag om by die huis te kom en te begin teken nie,” sê hy.

 

Kobus het geen formele kunsopleiding nie en was nog nooit deel van ’n openbare uitstalling nie, maar sy kunswerk is baie gesog onder vriende, familie en kollegas, wat sy werk gretig versamel.

 

Hy sê hy het tot dusver sowat 15 skilderye verkoop en is al gevra om spesifieke stukke vir mense te skep.

 

Hoewel elke skildery ’n gunstelingstuk is, hou hy veral baie van ’n onlangse skildery van ’n ou stoomlokomotief.

 

“My pa het jare gelede op die Standerton-Vrede-roete as treindrywer gewerk, en ek het gereeld saam met hom voor in die lokomotief gery. Ek het nou die dag aan die verlede gesit en dink en voordat ek my kon kry, was ek besig om ’n ou lokomotief te skilder, en net daar het al die ou herinneringe my oorspoel.”

Kuns is kos vir die siel, sê Oom Pottie

(Picasso)

Wat mense nie van Kobus –’n senior bedryfsbeheerbeampte by Beskermingsdienste in Vanderbijlpark – weet nie, is dat hy ook ’n talentvolle kunstenaar is.