Dosent Kebitsamang Sere gee waardevolle raad oor hoe om in hierdie vakansieseisoen oorbesteding te vermy.

Hoe om die Desember-skuldstrik te systap

Die feesseisoen kan finansieel veeleisend wees, en dit gebeur maklik dat jou vakansiebesteding buite beheer raak.

Om lesers meer bewus te maak van die slaggate van vakansiebesteding, het Kebitsamang Sere, ’n dosent van die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe op die kampus in Mahikeng, ’n paar waardevolle wenke gegee oor hoe om seker te maak ons hoop nie skuld op gedurende Desember nie.

 

“Na my mening is ons as verbruikers geneig om impulsiewe kopers te wees. Mense verloor dikwels kop gedurende die feesseisoen en raak buite beheer sonder dat hulle ’n behoorlike plan in plek het,” sê Kebitsamang.

 

Pasop vir “Januworry”

 

“Verbruikers moet versigtig wees dat hulle nie tydens die feesseisoen in ’n onbeheerde skuldlas verval nie, aangesien dit in Januarie vernietigende gevolge kan hê,” waarsku sy.

 

“As jy dalk ’n jaareindbonus kry, moet jy dit met oorleg spandeer. In plaas daarvan om jou bonus tydens die feesseisoen op onnodige items uit te gee, bestee dit eerder op noodsaaklike items soos skryfbehoeftes, skooluniforms en skool- of onderriggeld. Wat dan ook al oorbly, kan jou deur die lang maand van Januarie help.”

 

Hier is haar wenke om te verhoed dat jy hierdie vakansieseisoen te veel geld uitgee:

 

  • Bêre ’n bietjie van jou geld – indien moontlik, begin reeds voor Desember om elke maand ’n gedeelte van jou salaris te spaar om ’n finansiële krisis in Januarie te vermy.
  • Bestuur jou begroting – wanneer jy ’n begrotingsplan opgestel het, hou daarby. Dit sal jou help om op hoogte van jou geldsake te bly sodat jy presies weet hoeveel jy beskikbaar het om te bestee.
  • Wag vir die uitverkopings – onthou, ná die feesseisoen is daar gewoonlik uitverkopings van oortollige goed. As jy dus iets moet koop, kyk liewer of jy dit dan goedkoper kan kry.
  • Moenie jou kredietkaarte gebruik nie – moenie iets koop as jy nie die kontant het om dit te koop nie. Gebruik liewer ’n bêrekoopgerief (waar jy die goedere eers ontvang nadat jy dit in klein maandelikse paaiemente afbetaal het).

 

Wees verstandig: moenie tydens die vakansie te veel uitgee nie. As jy dit doen, kan Januarie ’n ellelange maand wees.

 

 

 

Jy sal nog wenke kry oor maniere om die einde van die jaar se inkopiemalheid te oorleef in artikels wat op webwerwe soos MoneyWeb en die SA Spaarinstituut gepubliseer word.