Het vroue gelyke geleenthede in die akademie?

Dis dalk ’n verrassing, maar dit lyk of daar meer vroue is wat vol professors of akademiese bestuurders by universiteite in Afrika is as by universiteite in Duitsland.

 

Hierdie waarneming deur die Universiteit van Potsdam se akademici wat met Afrika-universiteite saamwerk, was een van die belangrikste motiverings agter ’n konferensie oor gelyke geleenthede vir vroue in akademiese omgewings.

By die konferensie wat by die Universiteit van Potsdam gehou is, is van links Kave Bulambo (stigter van die maatskappy My Career), prof Jemimam Akosua Anderson (Universiteit van Ghana, Legon), Grace Dawson-Ahmoah (Universiteit van Ghana, Legon), prof Susan Coetzee-Van Rooy (NWU), dr Lillian Brise (’n onafhanklike navorser van Nigerië), Chantelle Kruger (NWU), en Pheladi Fakude (NWU).

 

 

Kom ons deel ons stories

 

Susan sê hulle was verras oor hoe opheffend dit was om hul persoonlike verhale met ander vroulike akademici uit Afrika en Duitsland te bespreek.

 

“Ons wil graag aanbeveel dat ’n soortgelyke sessie by die NWU gehou word as deel van die universiteit se bevorderingsplanne vir geslagsgelykheid. Mense van meer uiteenlopende genders behoort ook uitgenooi te word om hul verhale te vertel,” voeg sy by.

 

eish! het drie NWU-akademici wat die konferensie, “Learning from Africa: Equal opportunities for women in academia”, bygewoon het, gevra om ons meer oor hul ervarings en uitdagings as vroulike akademici te vertel.

Prof Susan Coetzee-Van Rooy, Pheladi Fakude en Chantelle Kruger was drie van die NWU-afgevaardigdes wat die konferensie van 28 tot 30 Oktober 2019 by die Universiteit van Potsdam bygewoon het.

Nes die afgevaardigdes van Ghana, Nigerië en ander Suid-Afrikaanse universiteite het hulle gesels oor die omstandighede in hulle lande wat gelyke geleenthede vir vroue in die akademie betref.

Impak van die huis

Susan, ’n navorsingsprofessor by Verstaan en Verwerking van Taal in Komplekse Omgewings (UPSET) in die Fakulteit Geesteswetenskappe, sê terwyl hulle vir die konferensie voorberei het, het hulle besef hoe hul agtergronde tuis hul vooruitsigte in die akademiese wêreld beïnvloed het.

“As gevolg daarvan het ons ons aanbiedings gestruktureer om op die aard van ons huishoudings te fokus, en hoe dit ons vordering na ’n akademiese loopbaan óf geïnspireer, óf in die wiele gery het.”

Benewens dat sy op wetgewing oor geslagsgelykheid in Suid-Afrika gefokus het, het Susan ook gewys op die talle voorregte wat haar in staat gestel het om ’n akademikus en akademiese bestuurder te word.

Dit het ingesluit dat sy tydens die apartheidsera in ’n bevoorregte staatskool vir wit kinders was. Sy het ook ’n wyse moeder en minder outoritêre vader gehad, gemeet aan die gemiddelde Afrikaanse standaarde.

Stereotipes en geld

Akademiese geletterdheid-dosent Pheladi sê meisies moet speelgoed soos speelgoedmotors hê en sien dat hulle pa’s kosmaak.

“Dit sal die enigste manier wees waarop die tradisionele rolle van meisies en seuns kan verander,” sê sy. “Meisies in my gemeenskap moet ná skool huishoudelike take verrig; iets wat seuns nie hoef te doen nie.”

Sy sê befondsing sal ’n groot verskil maak wanneer die verteenwoordiging van arm vroulike studente in die onderwys verhoog word.

Pheladi het in ’n uitgebreide familie grootgeword waar armoede voortdurend ’n rol gespeel het. “Toe ek hoërskool toe moes gaan, was dit moeilik, want ek moes ’n nuwe uniform kry en hierdie spesifieke hoërskool het nie ’n voedingskema gehad nie,” onthou sy.

Oorbrug struikelblokke

Chantelle, ’n tydelike dosent wat akademiese geletterdheid en tale in die regskonteks onderrig, het die kwessie van “oorbruggingservarings” (threshold experiences) in haar kindertyd bespreek, onder meer hoe sy nie direk ná matriek die geleentheid gehad het om universiteit toe te gaan nie.

Sy onthou ook dat sy as ’n akademikus met ’n MA-graad probleme gehad het om fondse te kry vir haar PhD.

“My aanbieding het die gehoor daaraan herinner dat selfs in Suid-Afrika armoede oor rassegrense strek, en dat die geleenthede vir alle mense, insluitende arm wit vroulike studente, beperk word.”