Prof Eva Manyedi sê om ’n verpleegkundeloopbaan te hê wat oor twee dekades strek, is werklik ’n genade.

 

 

ROL AF

Jare gelede was daar ’n wan-opvatting dat die verpleegkunde-beroep uit sponsbaddens en bedpanne bestaan. Deesdae is die publiek egter meer ingelig oor die belangrike rol wat verpleegkundiges in die mediese gemeenskap speel.

Nietemin is dit dalk moeilik om die volle omvang te verstaan van die kundigheid en kennis wat verpleegkundiges onder die knie moet hê, veral as jy of ’n geliefde nog nie tyd in ’n hospitaal deurgebring het nie.

 

Prof Eva Manyedi, ’n medeprofessor in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe se Skool vir Verpleegkunde op die kampus in Mahikeng, is ’n sprekende voorbeeld van die veelsydige rol wat verpleegkundiges in die samelewing speel.

 

Hoe dit begin het

 

Eva is in Mokopane gebore en is die tweede oudste van ses kinders. Sy het haar matriek aan die Hoërskool Gojela voltooi en daarna, onder invloed van haar ma, ’n lewenslange loopbaan as verpleegkundige gekies.

 

“Toe ek in matriek was, wou my Engels-onderwyser vir my studies betaal sodat ek in maatskaplike werk kon studeer, maar my ma, as enkelouer met ses kinders, kon nie my ander behoeftes bekostig nie.

 

“Sy het besluit dat ek verpleegkunde moet studeer, omdat dit ’n gerieflike opsie was waar ek kon studeer sonder om onderriggeld te betaal. Nadat ek gekwalifiseer het, het ek egter ’n passie vir die beroep ontwikkel, veral vir psigiatriese verpleegkunde.”

 

Eva het haar aanvanklike verpleegkunde-opleiding by Baragwanath Hospitaal voltooi. Daarna het sy verdere verpleegkundekwalifikasies verwerf, onder meer Unisa-grade in gevorderde psigiatriese verpleegkunde en gemeenskapsgesondheid-verpleegkunde.

 

Van verpleegkundige praktyk tot onderrig

 

Haar eerste werk as verpleegkundige was by die Bophelong Hospitaal en die Mmabatho-kollege vir verpleegkunde, waarna sy ingeskryf het by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys – soos die kampus in Potchefstroom voorheen bekend gestaan het.

 

“Op 1 Mei 1999, toe ek as dosent by die universiteit begin werk het, het ek pas vir my meestersgraad in verpleegkunde ingeskryf,” onthou Eva. Sy het in 2007 haar doktorsgraad voltooi en is die volgende jaar tot senior lektor bevorder, en in 2017 tot medeprofessor.

 

Deel haar kundigheid

 

Sy was ook ’n lid van die Democratic Nursing Organisation of South Africa. Sy het aanvanklik in die transformasiekomitee vir verpleegkunde gedien voordat sy die eerste provinsiale voorsitter geword het, en toe die tesourier en ’n lid van die provinsiale uitvoerende komitee.

 

Nog ’n hoogtepunt in haar loopbaan was dat sy benoem is om te dien op die Minister van Gesondheid se komitee wat die beleidsraamwerk en -strategie vir geestesgesondheid vir 2013-2020 ontwikkel het.

 

Asof dit nie genoeg is nie, het die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling vir Eva gekies om op die Central Drug Authority te dien – ’n nasionale raad wat die parlement oor middelmisbruik in die land adviseer. Sy het in 2013 by die raad aangesluit en dien steeds daarop.

 

Brei haar rol uit

 

Die NWU het op meer maniere by Eva se kennis van verpleegkunde gebaat as net haar onderrigrol.

 

Sy het as die kampus se koördineerder vir gehalteversekering en as voorsitter van die beroepsgesondheid en veiligheidskomitee gedien. Sy het ook onder meer op die kampus se bestuurskomitee, die uitgebreide bestuurskomitee, die dekaanskomitee en die hoërgradekomitee gedien.

 

“My taak om ’n betekenisvolle bydrae tot ’n instelling soos die NWU te lewer, is op hierdie stadium in my loopbaan nie iets wat ek ligtelik opneem nie.

 

“Dit is egter net so bevredigend dat ek drie pragtige kinders grootgemaak het, van wie een getroud is en my ’n ouma gemaak het.”

PROF EVA SE PASSIE IS VERPLEEGKUNDE

PROF EVA SE PASSIE IS VERPLEEGKUNDE