Anika mik vir skaaksukses in Indië

Talentvolle skaakspeler Anika du Plessis weet skaak gaan alles oor die regte skuiwe op die regte tyd.
Anika, ’n lid van die NWU se skaakspan, sê een van die voordele van skaak speel is om interessante mense van regoor die wêreld te ontmoet.
Verlede jaar is die negentienjarige Anika as die Afrika Skaakkampioen in die vrouekategorie vir haar ouderdomsgroep bekroon.

Skaak gaan alles oor die regte skuiwe op die regte tyd.

 

Anika du Plessis (19), ’n eerstejaarstudent in biochemie en mikrobiologie op die kampus in Potchefstroom, weet dit goed. Sy het skuif vir skuif haar pad na die titel as Afrika Skaakkampioen in die vrouekategorie vir haar ouderdomsgroep beplan.

 

Vir Anika, wat aan die einde van verlede jaar in Uganda bekroon is, is dit glad nie vreemd om titels te wen nie. Sy was ook Internasionale Vroueskaakmeester in 2018 – ’n prestasie wat slegs 13 ander Suid-Afrikaners nog kon behaal.

 

Sy geniet tans haar skaaksukses en mik nou om in Oktober in Nieu-Delhi die Wêreld Junior Kampioenskap te wen.

 

Van nuweling tot meester

 

Die bemeestering van die skaakbord het vir Anika reeds vroeg begin.

Sy het haar liefde vir die spel as ’n Graad 3-skoolmeisie ontdek. Hierdie liefde was meer as net entoesiasme, en dit was gou duidelik dat sy ’n talentvolle speler was. Dit het daartoe gelei dat sy op die ouderdom van 11 aan die provinsiale skaakkampioenskap deelgeneem het.

 

“Ek het net aangehou speel en meeding en elke oomblik daarvan geniet,” sê Anika, wat nou lid van die NWU se skaakspan is.

 

Die span se afrigter is dr Johan Steenkamp van die Skool vir Antieke Taal en Teksstudie in Potchefstroom. Hulle is tans besig om vir Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) se kampioenskap later hierdie jaar voor te berei.

 

Verrassingskeuse werp vrugte af

 

Dit was vir Anika ʼn groot verrassing om gekies te word om aan die Afrika Skaakkampioenskap deel te neem. Elke land wat by die Afrika Skaakkonfederasie geregistreer is, kan slegs twee manlike en twee vroulike spelers stuur om in die kampioenskap mee te ding.

 

Anika het in 2018 derde gekom tydens die Springbok-uitdunne se kwalifiserende rondte en toe een van die ander spelers nie kon gaan nie, het sy die geleentheid gehad om deel te neem. “Ek het eers vier dae voor die geleentheid uitgevind dat ek kan gaan speel. Ons moes vinnig reëlings finaliseer, maar ek was bevoorreg genoeg om dit te kon doen.”

 

ʼn Veeleisende spel

 

Anika sê die spel het tussen vyf en ses uur lank aangehou en was baie intens.

“Ons het nege rondtes gespeel en elke speler het slegs ’n uur en 'n half gehad om die eerste 40 skuiwe te speel, gevolg deur 30 minute se verdere spel. Die tydsbeperking vir elke skuif daarna was slegs 30 minute. Dit was nogal moeilik, maar ek het dit reggekry om dit suksesvol te voltooi.”

 

Sy sê dat alhoewel sy haar hele skaakloopbaan as ’n hoogtepunt sien en die oorwinning in die Afrika Skaakkampioenskap beslis een op sy eie is, is daar ’n geleentheid wat nog steeds uitstaan.

 

“Dit was die eerste keer toe ek die geleentheid gekry het om oorsee te gaan deelneem. Ons was in Slowakye en ek was betower deur die rustige omgewing waarin ons gespeel het. Dit het ’n blywende indruk gemaak.”

 

 

Rol oor die foto's vir meer inligting.

ROL AF