Die Covid-19-pandemie het ons gedwing om die 2020- akademiese kalender te verander en op sy beurt het dit die 2021-kalender beïnvloed, soos die domino-effek wanneer een aktiwiteit ’n kettingreaksie kan veroorsaak.

Klik hier om te sien hoe die 2021-kalender lyk.

Die NWU se akademiese jaar (2020) gaan vir die eerste keer vir ’n beperkte aantal geïdentifiseerde modules van een jaar na die volgende jaar oorloop. Dit is natuurlik as gevolg van die pandemie wat ons goed voorbereide planne en skedules vir 2020 deurmekaargekrap het.

 

eish! het met die NWU-registrateur, prof Marlene Verhoef, gepraat oor die uitwerking wat dit gehad het op die 2021- akademiese kalender wat die Raad op 10 September 2020 goedgekeur het.

 

V: Waarom was dit nodig om die akademiese jaar se kalender vir 2021 te verander?

A: As gevolg van die Covid-19-pandemie moes ons die kalender vir 2020 aanpas. Onder die veranderings was ’n laaste assesseringsperiode wat van 5 tot 15 Januarie 2021 loop en wat die 2021-kalender beïnvloed het.

 

V: Sal die 2021-kalender baie afwyk van dit waaraan ons gewoond is?

A:  Nee, nie regtig nie. Daar sal steeds twee semesters wees en daar sal ’n assesseringsgeleentheid in die middel en aan die einde van elke semester wees. Die grootste uitdaging is dat die eerste semester later as gewoonlik sal begin.

 

V: Sal aanlyn klasse volgende jaar voortgaan?

A: Met inagneming van die oplewing van die virus in ander dele van die wêreld sal daar waarskynlik volgende jaar ʼn vervlegte benadering tot onderrig-leer wees, waarna ons verwys as ʼn “onderrig-leer-modaliteit met beperkte kontak”. Dit beteken dat sommige klasse aanlyn sal wees, sommige in kontak- of aangesig-tot-aangesig-modus, en ander ʼn kombinasie van kontak en aanlyn.

 

V: Wanneer gaan die klasse in 2021 begin?

A: Vir terugkerende studente sal die eerste semester op 15 Februarie 2021 begin, en vir eerstejaarstudente begin dit op 17 Maart 2021.

 

Die eerste tydperk ná die aankoms van die eerstejaars sal deur die ontvangs- en bekendstellingsprogram in beslag geneem word, wat ook anders daar sal uitsien.

 

V: Waarom kom die eerstejaars eers in Maart?

A: Dit is as gevolg van die uitgestelde bekendmaking van die 2020-matriekeksamenuitslae. Dit word gewoonlik gedurende die eerste week van Januarie aangekondig, maar nou word dit eers op 23 Februarie 2021 vrygestel. Dit is omdat die graad 12-eksamen van 2020 later as gewoonlik begin het.

 

V: Wanneer moet die NWU-personeel in 2021 terugkeer werk toe?

A: Die universiteit sal soos gewoonlik hierdie jaar amptelik op 24 Desember sluit, en op 4 Januarie 2021 heropen. Personeel moet op daardie dag terugkeer, tensy hulle verlof neem.

FOKUS OP

akademiese kalender:

ons doen dinge anders

Prof Marlene Verhoef is die registrateur van die NWU.

FOCUS ON

.