Kgothatso Sefike beskryf haarself as ’n “kaalvoetkind in die reën”.

 

Nadat sy in Augustus 2019 as Mej NWU Kampus: Potchefstroom gekroon is, het Kgothatso outomaties gekwalifiseer vir die Mej Suid-Afrika Kampus 2020-kompetisie, wat sy op 5 November 2020 gewen het.  Sy kwalifiseer nou vir die 2021 Wêreld Mej Universiteit-kompetisie.

 

Mooi en slim

 

Kgothatso het in 2017 haar BSc-graad in verbruikerswetenskappe en besigheidsbestuur voltooi en is tans met haar tweedejaarstudie vir ’n BSc in stads- en streeksbeplanning op die Potchefstroomkampus besig.

 

Sy is in ’n dorpie genaamd Madidi in Pretoria gebore, en sy woon in Johannesburg en studeer aanlyn.

 

Hoe dit alles begin het

 

Kgothatso sê dit het alles in 2017 begin toe sy vir die Mej Varsitybekerkompetisie ingeskryf het.

 

“’n Vriend het my genomineer en ek het daardie tyd nie veel aandag daaraan gegee nie, totdat ek deur ’n reeks onderhoude is en uiteindelik as die tweede prinses gekroon is.”

 

Hierdie jaar se kompetisie

 

As gevolg van die huidige Covid-19-pandemie het die 2020 Mej SA Kampus-kompetisie virtueel plaasgevind. Deelnemers is gevra om inskrywingsvideo’s in te dien, waarna video-onderhoude en beoordelingsessies plaasgevind het.

 

Die kompetisie het in September begin en die eerste, tweede en finale rondtes het in Oktober plaasgevind. Die wenners is op 5 November aangekondig.

 

“Die oomblik toe ek besef het watter deure die Mej SA Kampus-kompetisie kan oopmaak, en hoeveel mense ek kon help, het ek besluit dat ek my loopbaan as model kan bevorder. Nou het ek boonop die wonderlike voorreg om die hele land by die Wêreld Mej Universiteit te verteenwoordig.”

 

Wat ’n seëning

 

Kgothatso sê vir God dankie vir hierdie ongelooflike seëning, en sy is ook baie dankbaar vir die organiseerders van die Mnr en Mej Suid-Afrika Kampus-kompetisies, asook vir haar vriende en familie.

 

“Ek is ’n trotse ouma- en mamma-dogtertjie en ek kan waarlik sê dat ek sonder hulle ondersteuning nooit eers die helfte van die dinge sou kon vermag wat ek bereik het nie,” sê sy.

 

“Ek is my ongelooflike ma se enigste kind en ons het so baie in die lewe gedeel en doen dit steeds. My tyd in Potchefstroom was vir my ma baie interessant, aangesien sy my sien ontwikkel het van ’n skaam dogtertjie tot die vrou wat ek vandag is.”

 

Opgewonde oor die reis wat voorlê

 

“Ek dink nie die feit dat ek die kompetisie gewen het, het al ingesink nie, hoofsaaklik omdat ek steeds by die huis is en aanlyn studeer. Ek dink dit sal eers ’n werklikheid raak wanneer ek terug is op die kampus, omring deur my medestudente.”

 

Sy sê sy voel nederig oor wat die titel meebring, veral dat sy die land by die 31ste jaarlikse Wêreld Mej Universiteit-kompetisie moet verteenwoordig. “As gevolg van die Covid-19-pandemie sal die presiese plek en datum van hierdie gebeurtenis later bekendgemaak word,” voeg sy by.

 

Kgothatso se langtermyndoelwit is om die volgende NWU-alumna te word om die Mej Heelal-titel te wen, en so in die voetspore te volg van Demi-Leigh Nel-Peters, wat dit in 2017 gewen het.

 

Wat haar loopbaan betref, sien sy haarself oor vyf jaar as ’n geregistreerde stads- en streeksbeplanner en eienaar van haar eie maatskappy.

Mej Suid-Afrika Kampus gekroon

Kgothatso word as

Kgothatso Sefike, ons Mej Kampus NWU: Potchefstroom van 2019, is onlangs as Mej Suid-Afrika Kampus gekroon.

Hierdie jaar se Mej Suid-Afrika Kampus is ’n plat-op-die-aarde skoonheid, en wat meer is: sy is een van ons eie.

Kgothatso, ons Mej Kampus NWU: Potchefstroom 2019 en nou ook Mej Suid-Afrika Kampus, het haar BSc-graad in verbruikerswetenskappe en besigheidsbestuur in 2017 voltooi. Sy is tans ʼn tweedejaarstudent in stads- en streeksbeplanning op die Potchefstroomkampus.