Kabelo se wenontwerp is geïnspireer deur ’n storie wat Suid-Afrika se kulturele verskeidenheid deur taal en etnisiteit uitbeeld.
Kabelo Diphoko, ’n student in grafiese ontwerp op die Potchefstroomkampus, het in die 2020 Wild Bean Café Design a Cup-kompetisie met die eerste prys weggestap.
Die kompetisie het verlede jaar met ’n patriotiese veldtog begin toe die borg – BP, wat die Wild Bean Café-handelsmerk besit – saamgespan het met MetroFM en mense uitgenooi het om hul stories oor Mzansi te vertel. Hulle het gevra vir positiewe stories wat die goedheid van Mzansi uitbeeld, veral daardie stories wat die eenheid uitbeeld wat in ons diversiteit aangetref word.
Stories is op verskillende sosialemediaplatforms ingedien en vyf wenstories is aan 15 ontwerpinstellings gestuur – waaronder die NWU – met ’n uitnodiging aan studente om hul gunstelingstorie op ’n Wild Bean Café-koffiebeker te illustreer.
Geïnspireer deur ’n storie
Dit is waar Kabelo se talent inkom. Sy ontwerp, wat geïnspireer is deur ’n storie wat Suid-Afrika se kulturele verskeidenheid deur taal en etnisiteit uitbeeld, het aan hom die eerste prys in die ontwerpdeel van die kompetisie besorg.
“Ek het gekies om hierdie ontwerp te gebruik omdat dit die gees van ons land te weerspieël – diversiteit en ubuntu – en op die helder, kleurvolle Suid-Afrika fokus,” sê hy.
Die hoofrede waarom hy vir die kompetisie ingeskryf het, was omdat hy dolgraag die eerste prys wou wen, wat ’n kontantprys insluit wat vir die oorblywende twee jaar van sy studie sal betaal.
“Die tweede en derde pryse was skootrekenaars, en ’n vinnige skootrekenaar help ons as studente in grafiese ontwerp om vinniger en doeltreffender te werk, maar my visier was op die hoofprys ingestel.”
Kreatiwiteit gee die deurslag
Daar is ’n gesegde, “As jy dit in jou geestesoog kan sien, sal jy dit in jou hande sien”, en dit was die geval met Kabelo se inskrywing, omdat al sy harde werk en ambisie die deurslag gegee het toe hy met die gesogte eerste prys weggestap het. Hy het R100 000 vir sy studies gewen, asook ’n ten volle betaalde koffie-ervaring vir twee in Tanzanië.
“Ek is so dankbaar vir hierdie eerste plek, en die werklikheid sink elke dag so ’n bietjie dieper in; ek is sprakeloos van blydskap,” sê Kabelo.
Hy studeer tans grafiese ontwerp met illustrasie as vak en hoop om oor te skakel na multimedia, wat ook deel van grafiese ontwerp is. Hy beplan om in die toekoms ’n multimediamaatskappy te besit en sien homself ook in die kreatiewe veld.
“Al die eer kom God toe, aangesien ek sy guns verkry het om te wen en om te wees waar ek vandag is.”
Kabelo bedank ook sy familie omdat hulle hom altyd aanmoedig om sy beste te lewer, asook sy dosente aan die Skool vir Kommunikasiestudies omdat hulle hom altyd help om die regte koers in te slaan en hom lei.
“Ek wil ook graag vir BP bedank dat hulle aan ontwerpers die geleentheid gee om hul talent en vaardighede te vertoon, veral tydens die grendeltyd.”
Dit wys ’n mens weer dat met harde werk en deursettingsvermoë enigiets moontlik is.
Kabelo het die eerste prys losgelaan in die ontwerpdeel van die Design a Cup-kompetisie – R100 000 om vir sy studies te betaal, en ’n ten volle betaalde koffie-ervaring vir twee in Tanzanië.
Beweeg oor die foto om meer te lees.
op volsterkte ná grafiese oorwinning
KABELO