is beslis nie vir die voëls nie

VOËLKYK

Voëlkyk: hoe om aan die gang te kom

 

Hier is Ronel se wenke oor hoe om ’n suksesvolle voëlkyker te word:

 

  • Wanneer jy ’n kamera kies, koop een met die grootste optiese zoemvermoë, byvoorbeeld die Canon SX65 of die Nikon P900.
  • ’n Verkyker is nie nodig as jy ’n kamera met ’n goeie zoemfunksie het nie.
  • Jy moet ten minste een voëlboek hê – my gunsteling is Roberts en Sasol se voëlgidse.
  • Handige apps vir jou foon is Robert’s Bird Guide 2 (my gunsteling), Sasol eBirds Southern Africa of BirdPro.
  • Wanneer jy in die veld is, ry stadig en met oop vensters. Sodra jy enige voëlgeluide hoor, hou onmiddellik stil. As jy moet terugstoot, sal die voël waarskynlik nie meer daar wees nie.
  • Neem so gou as moontlik jou foto, of probeer om fyn waar te neem en so veel besonderhede as moontlik te onthou. Kenmerke soos grootte, kleur, liggaamsvorm, en die vorm van die bek is alles baie belangrik om voëlspesies te identifiseer.

 

Ronel sê elke streek het sy eie unieke spesies. “Jy moet so veel as moontlik areas besoek om jou lys van geïdentifiseerde voëls uit te brei.”

Geesdriftige voëlkyker Ronel Röscher het in 2010 ’n meestersgraad in chemie verwerf en werk tans in die webkantoor van Korporatiewe Kommunikasie.

“Ek is nou eers amper halfpad met die Suider-Afrikaanse voëls en sal seker nooit ophou om na skaars en nuwe voëls te soek nie.”

 

So sê die ywerige voëlkyker, Ronel Röscher, webontwikkelaar by Korporatiewe Kommunikasie.

 

“Ek en my man, Justus, het in 2008 gaan vakansie hou in die Krugerwildtuin en omdat ek mal daaroor is om foto’s te neem, het ek enige dier of voël wat beweeg, afgeneem. Eers toe ons by die huis gekom het en na die foto’s gekyk het, het ek besef daar is baie van hulle wat ek nie ken nie.

 

“Ons het gelukkig ‘n Sasol Voëlboek gehad om die voëls te identifiseer en net daar het die voëlkyk-gogga ons gebyt.”

 

Wanneer die wiele draai

 

Ronel sê die meeste van hul voëlkyk-ekspedisies is wanneer hulle met vakansie gaan.

 

Hulle besoek meestal die nasionale parke in die land en was al by Augrabies, Camdeboo, Golden Gate, Kgalagadi, Marakele, Karoo, Namakwa, Bergkwagga, Tankwa Karoo, Tuinroete, Kruger, St Lucia, Hluhluwe, Ndumo en Mkuze.

 

Sy sê dis moeilik om ’n gustelingplek uit te sonder, maar sy verkies plekke in Natal en die Krugerwildtuin. “Mkuze het die beste voëlskuilings waar ’n mens ’n groot verskeidenheid voëls kan bekyk.”

 

Ronel sê hulle is darem nie so fanaties dat hulle kilometers ver sal ry om sekere voëls te sien nie. “Ons stokperdjie begin wanneer ons is die motor klim op pad na ons vakansiebestemming, totdat ons weer by die huis stop.”

 

Sy vertel van die rooibek-eend en bont-elsie wat hulle die eerste keer tydens vakansie op hul lysie gesit het, net om later te ontdek dat die twee voëls net ’n paar kilometer van hul huis ook in die Prozesky-voëlpark voorkom.

 

Kiek voëltjies van ver af

 

Ronel neem al die voëlsoorte af om hulle later te kan identifiseer. Sy gebruik dan ’n goeie zoem-lens om op ver afstande op die voëltjies te kan fokus.

 

“Ek het al dikwels sommer uit die bloute vir Justus gevra om te stop net om na ’n voël te kyk voordat ons verder ry. Gelukkig deel ons die stokperdjie en gee hy nie regtig om om te stop nie.”

 

Ronel vertel sy het nou al 411 voëls op haar ”lewenslys” (’n rekord wat gehou word van al die voëls wat deur ’n voëlkyker gesien en geïdentifiseer is). ’n Paar van die skaarsste voëlspesies op dié lys is die visuil, die breëbek en die bloukorhaan.

 

“Maar daar is soveel soorte wat ek wil sien. Ek het nog nie eens al die plaaslike voëls afgemerk nie en dan is daar ook nog talle in verskeie ander streke wat ek graag sal wil sien.”

 

Tuis in die webkantoor

 

Ronel is ’n nooi van Hartswater wat eers ’n BSc-graad in chemie en fisika en daarna ’n honeurs- en meestersgraad in chemie by die NWU behaal het.

 

Sy het ná haar studies in 2011 deeltyds uitgehelp met webwerk en besluit om net daar te bly. Sy is nou deel van die span wat webontwikkeling doen en voel baie tuis in die korporatiewe kommunikasiespan.

 

Sy en Justus, ʼn senior lektor in chemie by die NWU, is in 2006 getroud. Hulle woon saam met hul honde en katte op ’n kleinhoewe waar Ronel ook haar ander liefde – vir tuinmaak en groenteplant – uitleef.