AANHOUER

WEN WÉRK

Honneursstudent en entrepreneur John Nchoe het sy mediareis begin toe hy as student by die studentekoerant op die kampus in Mahikeng gewerk het.

 

Wanneer dit kom by wat hip is en in en om Mzansi gebeur, het min mense hulle vinger só op die pols soos John-Jay.

ROL AF

John Nchoe skuur skouers met Suid-Afrikaanse musikant MmaAusi tydens die Mahika-kultuurmusiekfees in Mahikeng.

TERUG

John Letlhogonolo Nchoe, gebore in Boikhutso, ’n klein township in Lichtenburg in Noordwes, wou ’n loopbaan in medisyne volg. Teen 2018 het hy egter ’n reusegetal volgelinge opgebou as gevolg van sy belangstelling in alles wat met media te doen het.

 

In ’n land waar talle gegradueerdes nie loopbaanpaaie volg in die gebiede waarin hulle studeer het nie, is John die bewys van watter vrugte deursettingsvermoë en harde werk kan dra.

 

“Ek is lief vir wat ek doen; ek hou daarvan om te reis en gee nie om om laat in die bed te kom en elke oggend vroeg wakker te word nie,” sê John, wat die naam John-Jay gekry het van die voormalige Amerikaanse staatsman John Jay, wat tussen 1795 en 1801 die goewerneur van New York was.

 

Die media-gogga byt

 

John se belangstelling in die mediaruimte het begin toe hy as voorgraadse student by die kampuskoerant in Mahikeng begin werk het.

 

Hy het ook in fotografie begin belangstel en uiteindelik was  vermaaklikheidsverslagdoening sy gunstelingwerk. Dié belangstelling is verder aangevuur toe hy by die SABC gewerk het, voordat hy as ’n elektroniese kommunikasiebeampte na die NWU teruggekeer het.

 

Dit het uiteindelik daartoe gelei dat John sy media- en openbare betrekkingemaatskappy Nchoe On Communications gestig het. Hier benut hy sy uitgebreide ervaring in multimedia en sosiale media om inhoud en strategieë vir verskillende organisasies te skep.

 

Skuur skouers met die grotes

 

As gevolg van John se visionêre benadering het hy al met verskeie groot handelsmerke gewerk. Hulle is onder meer McCafé, die Suid-Afrikaanse Film- en Televisietoekennings, Suid-Afrikaanse Tradisionele Musiektoekennings, Suid-Afrikaanse Musiektoekennings, GQ Style, Georgia Clothing, Gauteng Sansui Summer Cup en Red Bull.

 

“Ek het al op talle platforms verskyn, insluitend dié soos SABC1, SABC3, MTV, VUZU TV, Gauteng TV, en op radioplatforms soos Motsweding FM en Mafikeng FM. Dit is nogal ’n eer,” sê hy.

 

Hoewel hy ver gekom het, is John nog nie waar hy professioneel wil wees nie, en verskuif hy voortdurend die doelpale. Akademies werk hy tans aan ’n BAHons-graad.

 

Met geen teken dat hy die pas verslap nie, bly John nederig: “My werk is ’n seëning. Dis ’n voorreg, nie ’n reg nie.  Dit dwing jou soort van om jou voete op die grond te hou.”