Mini-mannetjies verg maksimum fynvat

Afhangend van die ingewikkeldheid en detail van ’n figuurtjie, bestee Jako ongeveer ’n week om een van hierdie klein militêre mannetjies te bou.

Die trotse bevelvoerder is tot die tande toe gewapen en het ’n intimiderende frons op sy gesig. Dis asof jy kan hoor hoe hy sy manne beveel om gereed te maak vir die geveg. Hy wys dreigend na die slagveld, al staan hy niks hoër as ’n R5-muntstuk nie.

ROL AF

Hierdie miniatuur, maar ongelooflik lewensgetroue bevelvoerder, is een van talle modelle wat Jako Kuhne, grafiese ontwerper by die Departement Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking, met pynlike presisie bou.

 

Wanneer dit aand word en die gemiddelde huisgesin in beswyming voor die TV neerval, gee Jako sy kreatiwiteit vrye teuels deur miniatuur wetenskapsfiksie-oorlogfiguurtjies in ongelooflike detail te bou.

 

Hoe dit alles “lewe” kry

 

Met ’n spesiale tipe gom plak hy hulle versigtig aanmekaar: die piepklein liggaamsdele, pantser, maskers, mantels en ammunisie wat enige wetenskapsfiksie-aanhanger hoendervleis sal gee. Sy beste vriende in hierdie proses is sy haartangetjie en vergrootglas.

 

Jako verduidelik dat wanneer hy tevrede is met sy soldaat en die gom wat dit aanmekaarhou droog is, is dit tyd om te verf. Met ’n klein kwassie en militêre presisie wat enige soldaat trots sal laat voel, skenk hy dan spesiale aandag aan die detail.

 

Die spreekwoordelike kersie op die koek is die agtergrondtonele wat hy vir sy modelle met behulp van alledaagse voorwerpe bou, soos die silikabuisies (wat droogmiddel bevat) wat mens in medisynehouers kry. Stukkies plastiek word in staalpale vir ’n heining omskep, volledig met dun koperdraad wat Jako in gevaarlike doringdraad omskep. ’n Knippie sout werk wonderlik as sand wanneer dit bruin geverf is.

 

Verlore in ’n fantasiewêreld

 

Wanneer hy nie sy klein leërs skep of sy nutsmanvaardighede in die huis saam met sy verloofde, Roelien, aanwend nie, geniet Jako dit om verlore te raak in die fiktiewe wêrelde wat geskep word deur skrywers soos Terry Pratchet, Stephen King en ander.

 

Dit lyk asof Jako voor die wind vaar met alles waaraan hy sy kreatiewe hande waag. Hy bewys ook  Maya Angelou reg: Jy kan nie kreatiwiteit opgebruik nie. Hoe meer jy dit gebruik, hoe meer het jy.

 

 

TERUG

Jako gee spesiale aandag aan detail, byvoorbeeld die wapens wat hierdie vreemde vegters gebruik.