Edwin Nkosapantsi het ’n ver pad gekom sedert hy sy soektog na sy pa begin het. Vandag kyk hy terug op ’n loopbaan wat deur die Ikateleng-projek duisende leerders se lewens aangeraak het.

 

Edwin se ma is die vorige jaar oorlede, en hy het pas die ekwivalent van graad 8 voltooi. Gehoorsaam aan sy oupa se opdrag om die pa te soek wat hy nooit geken het nie, het Edwin in Kokstad in die Oos-Kaap op die trein geklim, op pad na die myne in Benoni.

 

Vandag kan die 73-jarige Edwin terugkyk op ’n loopbaan wat talle lewens aangeraak en geïnspireer het.

 

Hy het sy pa gekry, en deur harde werk en toewyding ’n buitengewone loopbaan ontwikkel in die NWU se Bemarking en Studentewerwing-afdeling. Hy is ’n studentewerwer en hou toesig oor Ikateleng, ’n onderrig- en opheffingsprogram vir die jeug.

 

Langs die pad

 

Edwin het voorheen vir verskeie ander werkgewers gewerk. Dit sluit in Modderbee Korrektiewe Dienste, SA Land Mines in Brakpan, Iscor en die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsraad. Waar hy ook al gegaan het, het Edwin aangehou om sy vaardighede as ’n opvoeder te slyp, omdat hy dit nog altyd as sy roeping beskou het.

 

Langs die pad was daar ’n paar skrikwekkende uitdagings. Terwyl hy by die Ontwikkelingsraad was, was sy taak om raadslede in die landelike Wes-Transvaal op te lei. Hy het doodsdreigemente in Zeerust ontvang, en moes woedende skares toespreek – sommige met ysterpype bewapen – terwyl hy die boodskappe van die destydse regering probeer oordra.

 

In 1993 het Chris Windell, direkteur van Openbare Betrekkinge by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Edwin as werwer en fasiliteerder in daardie departement aangestel.

 

Groei saam

 

“Wanneer ek op my loopbaan terugkyk, is ek baie trots op die manier waarop ons die universiteit gehelp het om te groei. Ons het duisende swart studente gewerf. Ons het dit reggekry om die getal studente op die Vaaldriehoekkampus van minder as 1 000 tot meer as 7 000 te verhoog,” sê hy.

 

“Ek het so baie mooi herinneringe. Nie te lank gelede nie, toe ek ’n skool in Springs besoek het, het ’n onderwyser na my toe gehardloop en my ’n drukkie gegee. Dit is die lekkerste gevoel in die hele wêreld.”

 

Hy is egter bekommerd: “Ons jeug het te afhanklik geword. Hulle glo meer in beloftes wat deur politici gemaak word, en minder in hul eie inisiatief. Ons land sal op ’n baie beter plek wees as hulle meer in hulself glo.”

 

Hy bly onwrikbaar in sy pogings om jongmense te motiveer. Hy bring sy naweke deur in gemeenskappe waar hy motiveringslesings en loopbaanvoorligting gee.

 

Dit is meer as net sy beroep. Sedert hy al die jare gelede die grens van die Oos-Kaap oorgesteek het met die geld wat sy oupa vir die os gekry het in sy sak, was dit sy roeping om met die jeug te werk.

TERUG

Edwin se soektog lei na die NWU-familie

Dit is 1957 en Edwin Nkosapantsi is 12 jaar oud. Sy oupa het pas sy laaste os verkoop, en terwyl hy vir Edwin die geld gee wat hy daarvoor gekry het, sê hy: “Gaan soek jou pa.”

ROL AF