Aktiewe betrokkenheid by Bone SA

 

Mariëtte, wat ook ʼn gekwalifiseerde apteker is, dien reeds sedert 2006 op Bone SA se raad en is tans voorsitter van die direksie. Sy bring ten minste twee dae per week by Bone SA se hoofkwartiere in Johannesburg deur.

 

Opgewonde oor navorsing

 

Haar werk by Bone SA het die behoefte geïdentifiseer aan meer navorsing en ontwikkeling met betrekking tot maniere om die doeltreffendheid van been- en weefselprosedures te verbeter.

 

“Bone SA, saam met die Fakulteit Ingenieurswese en die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die Potchefstroomkampus, het by die Departement van Handel en Nywerheid aansoek gedoen vir befondsing vir ʼn THRIP-projek. Ons glo hierdie voorgestelde driejaarprojek is naby goedkeuring.”

 

Die projek behels die ekstrusie van verpoeierde been en weefsel om sagte, poreuse been uit groter menslike bene te skep waarvoor daar nie dieselfde gereelde aanvraag bestaan as vir die kleiner bene nie. “Hierdie projek bied verskeie moontlikhede om te verseker dat die kosbare menslike materiaal wat beskikbaar raak, nie vermors word nie.”

 

Ander navorsingsprojekte wat nou resultate oplewer sluit in die aanpassing van menslike been vir ortopediese chirurgie deur, onder meer, die vermenging van been met kollageen sodat dit makliker ingespuit kan word. Dit is veral belangrik vir gesigtoepassings waar pasgemaakte bene en weefsel dikwels benodig word.

Prof Mariëtte Lowes is ook ʼn gekwalifiseerde en geregistreerde etiekbeampte verbonde aan die Etiekinstituut van Suid-Afrika. “Ek moes ʼn drie maande lange projek voltooi om te registreer, en het gekies om dit by Bone SA te doen. Hulle het ʼn indrukwekkende gedragskode wat hulle volg wanneer hulle met pasiënte, skenkers en dokters werk.”

>

>

LEES MEER