ʼn Tapisserie van verskillende gebruike

Vanaand skoffel ons tot die hane kraai!

 

In ons voortgaande reeks artikels vir Eish! kyk ons na die verskillende kulturele praktyke en hoe dit alles bydra tot die mooi en ryk tapisserie van die lewe in Suid-Afrika. In hierdie uitgawe skryf kommunikasiepraktisyn en voorslag-skrywer Annette Willemse oor hoe mense in die Afrikanerkultuur bruilof hou.

KLIK OM AF TE BEWEEG

>

>

Pa sê trou is ’n lekker ding! My oorle’ Ouma Plaas het weer geglo liefde is blind is en trou is die spreekwoordelike bril wat altoos te laat opgesit word. Hoe dit ook al sy, ʼn tradisionele Afrikaanse troue is ’n affêre wat jy nie sommer gou sal vergeet nie!

 

Voor die dae van aanlyn vryery en blind dates is ’n troue gewoonlik voorafgegaan met ʼn (verlengde) hofmakery. Die oumense was mos nie haastig nie. Vir die gelukkiges was die opsitkers in die voorhuis iets om na uit te sien, terwyl die muurblommetjies maar met ʼn briefie in die Landbouweekblad se Opsitkers-rubriek tevrede moes wees. Maar ten einde laaste het elke pot sy deksel gekry.

 

Vandag ontmoet paartjies in April, raak hulle verloof in Julie en teen Desember staan hulle voor die kansel. Dit is asof daar ʼn ongekende haastigheid is om die strop om die nek te kry.

 

 

KLIK OM AF TE BEWEEG

Oee, kyk hoe mooi ...

 

ʼn Paar ander dinge bly egter maar dieselfde. Op die dag van die troue snak almal na hul asem die oomblik as die bruid die kerk instap. Die moeder van die bruid dink haar dogter lyk pragtig en die pa van die bruid probeer uitwerk of dié trourok dan nou werklik so baie kon kos.

 

Terwyl die dominee uit Korintiërs 13 voorlees kan jy die ander gaste maar dophou, want skielik sak ’n gevoel van verlief-wees op almal neer. Ma en pa skuif nader aan mekaar, jou tannie en haar eksman loer onderlangs vir mekaar en vir ʼn wyle lyk die bure se rooikopseunskind ook nie te onaardig nie.

 

Daar is altyd ʼn tante wat hartstogtelik aan die snik gaan en ʼn pa wat die kerkbank voor hom met wit kneukels beklou in ʼn poging om sy emosies in bedwang te bring. Soos met die troue van die ontslape Lady Di, is daar by baie troues ook ʼn gevolg wat almal insluit van susterskind tot aangetroude niggie – almal in dieselfde onvleiende shiffonrokke

 

Die makietie begin

 

Die groot plesierigheid begin by die onthaal. Die ooms raak dadelik ontslae van hul kerkbaadjies en dasse, die kleingoed maak korte mette met hul kouse en skoene en die tannies soek skuilte teen die middagson terwyl hulle die kerkblaadjie as ʼn waaier gebruik. Die geur van braaivleis hang swaar in die lug, die tafels kreun onder tuisgebak en die liggies van die kontantkroeg flikker vroegaand al.

 

Geen moeite word ontsien vir ʼn tradisionele Afrikaanse troue nie.

 

Die gaste word behoorlik bederf met hartlike huiskos: vleis, rys, aartappels, slaai en poeding. Noem dit, en dit is op die spyskaart: varkboud, gebraaide skaapboud, koperpennieslaai, kerrieboontjies, malvapoeding en ingemaakte kwepers. (Daar was selfs ʼn troue waar skaapkoppe bedien is.)

KLIK OM AF TE BEWEEG

beweeg oor die foto

Vinnige feite

 

 

Het jy geweet dit is goeie geluk vir die bruid as sy op pad kerk toe ʼn skaap of ʼn duif raaksien? Maar pasop vir ʼn vark of ʼn begrafnisstoet, want dit kan net slegte geluk meebring.

 

Die ou gesegde van ‘something old, something new, something borrowed and something blue’, is ook belangrik. Die iets nuuts verwys gewoonlik na die rok, die antieke pêreloorkrabbertjies word by ouma geleen en die ietsie blou is gewoonlik ʼn strikkie op die kousband.

Kommunikasiepraktisyn en voorslag-skrywer Annette Willemse lig die sluier oor hoe mense in die Afrikaanse kultuur bruilof hou.

Hoe later, hoe kwater

 

Ná die toesprake en heildronke – waartydens die arme bruidegom in die rede geval word met liedjies soos “Kinders by dosyne” of “Lank sal hul lewe” – word die dansvloer geopen. Dit is nie ongehoord om enigiets van die troumars tot Worsie Visser en Celine Dion op ʼn troue te hoor nie. Daar word tot laatnag geskoffel op die klanke van Kurt Darren en die Klipwerf-boereorkes – of jy nou kan langarm of nie. Hoe later dit word, hoe joliger word die onthaal.

 

En skielik is die seremoniemeester aan die woord. Dit is tyd om die bruid se kousband en handruiker te gooi. Dis gewoonlik hier waar al die ongetroude niggies en nefies en vriende vorentoe geroep word, want as jy die kousband of handruiker vang, trou jy dalk in die nabye toekoms.

 

Teen dié tyd begin die ouerige gaste aanstaltes maak om huis toe te gaan. Nou het die arme seremoniemeester sy hande vol, want hoe verduidelik jy vir familie en vriende van ver dat die tafelruikers reeds belowe is aan die susters van die kerk wat gehelp het om die tee en koffie te skink? Dit is amper al tradisie om so ʼn aandenkinkie of twee van die troue saam huis toe te neem...

 

- Annette Willemse, kommunikasiepraktisyn, Vaaldriehoekkampus

KLIK OM NA BO TE BEWEEG