>

BEWEEG AF

ʼn Ma met ʼn hart vir ander mense

 

Die trotse ma van twee jong kinders, Kutlwano (7) en Tshiamo (5), sê sy sien uit na die uitdagings van die kompetisie. “Dit gaan harde werk wees. Ek het heelwat fondswerwing om tussen nou en die kroning op 16 Desember te doen. Gelukkig het ek ʼn baie ondersteunende man, Tumelo, wat my aanmoedig en motiveer.”

 

As deel van die kompetisie beplan Jennifer om twee "high tea"-geleenthede en ʼn gala-geleentheid aan te bied om geld vir liefdadigheid in te samel.

 

Sy is reeds aktief betrokke by Project Pixie, ʼn uitreikprogram wat elke maand toiletware verskaf aan 20 skoolmeisies van Ikageng in Potchefstroom, en sy is vasbeslote om ʼn verskil te maak met nóg nuwe projekte.

 

“Ek glo enigiemand behoort aktief betrokke te raak by projekte vir gemeenskapsopheffing. Dit begin alles met ’n gedagte. Elke gedagte lei tot ʼn aksie, en dit is wat nodig is – aksie.”

 

Sy sê hoewel sy hoofsaaklik beoordeel sal word vir haar betrokkenheid by liefdadigheid, sal sy ook bietjie loopplankwerk moet doen tydens die beoordelingsweek voor die kroning. Dit is deel van die meer glansryke kant van die kompetisie.

 

Kans werp vrugte af

 

Die Mev Afrika-kompetisie is Jennifer se eerste kompetisie ooit. “Ek het nie gedink ek sou ooit aan ʼn skoonheidskompetisie deelneem nie, maar toe ʼn vorige Mev Afrika, Jeanette Potgieter, my by ʼn liefdadigheidsgeleentheid in Potchefstroom genader het, het ek besluit om ʼn kans te vat.”

 

Jennifer sê van daardie oomblik af het dinge baie vinnig gebeur. “Ek het basies ingeskryf op die dag wat die kompetisie gesluit het. Ek het nie eens ʼn foto byderhand gehad om saam met die inskrywingsvorm te stuur nie; ek het sommer ʼn vinnige selfie in my kar geneem.”

 

Daardie einste selfie, en natuurlik Jennifer se passie vir gemeenskapsuitreikprojekte, het daartoe bygedra dat sy as finalis gekies is.

 

TERUG

ʼn Vinnige selfie vir sukses: Jennifer het hierdie selfie in haar motor geneem toe sy op die ingewing van die oomblik besluit het om in te skryf vir die Mev Afrika-skoonheidskompetisie.

>