Die impak van die Covid-19-pandemie en die geweldige spanning en las wat dit op Suid-Afrika se mediese kundiges geplaas het, het die NWU se saak vir ’n mediese skool in Noordwes dramaties versterk.

’n Langverwagte vergadering tussen die universiteit en die provinsiale regering het uitgeloop op die daarstelling van ’n gesamentlike taakspan om die fyner besonderhede van die stigting van ’n mediese skool by die NWU uit te werk.

 

Dr Bismark Tyobeka, voorsitter van die Raad, prof Dan Kgwadi, visekanselier, en prof Awie Kotze, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, het met die premier van Noordwes, prof Job Mokgoro, en hooggeplaaste lede van sy uitvoerende komitee vergader.

 

’n Besluit is by die vergadering geneem om ’n gesamentlike taakspan op die been te bring om die NWU se plan vir ’n mediese skool verder te verfyn en te versterk.

 

“Die bygewerkte besigheidsplan is met die provinsiale amptenare gedeel en baie belangrike punte is bespreek om die plan verder te versterk. Die Noordwes-provinsie het weer eens sy volle samewerking aan ’n mediese skool toegesê,” verduidelik Awie, onder wie se fakulteit die beoogde mediese skool sal ressorteer.

 

Gemeenskaplike belange

 

Die nuwe tegniese taakspan sal onmiddellik aandag gee aan ’n aantal areas van gemeenskaplike belang. Dit sluit in groter samewerking tussen die NWU se Skool vir Verpleegkunde en die provinsiale kollege vir verpleging om werkers vir gemeenskapsgesondheidsorg op te lei om die kliniese opleidingsplatform te versterk en wedersyds voordelige navorsingsprojekte te identifiseer.

 

“Dit is ’n saak wat ons steeds sal nastreef, omdat ons werklik glo dat die nuwe mediese skool by die NWU ten opsigte van inskrywingsgeleenthede en openbare gesondheid in die land in die behoeftes van voornemende studente en die publiek sal voorsien,” het dr Bismark Tyobeka ná die onlangse Raadsvergadering op 18 Maart 2021 gesê.

 

In die lig van die immer-groeiende vraag na mediese kundiges is die NWU duidelik op koers om in ’n dringende behoefte te voorsien – nie net in Noordwes nie, maar ook in Suid-Afrika en die streek as geheel.

 

Die NWU glo dat hulle ’n unieke en noodsaaklike waardeproposisie met die beplanning vir die beoogde mediese skool geskep het. Hulle is vol vertroue dat die universiteit, ten spyte van die hoë koste om ’n mediese skool te bedryf, in staat sal wees om die gerief daar te stel en bedryfskoste laag te hou sonder om die gehalte van opleiding en uiteindelike uitkomste in te boet.

 

Die moontlikheid om ’n mediese skool te stig, is so lank gelede as in 2006 geopper, maar dit was eers in 2017 dat die beplanning begin koers kry het.

 

Die NWU het verlede jaar ’n webinaar aangebied om die ernstige nood te beklemtoon vir die jaarlikse lewering van meer gekwalifiseerde mediese personeel om die gesondheidsorgstelsel te betree – veral ten opsigte van mediese dokters. Die tekort aan mediese vaardighede het tydens die huidige Covid-19-pandemie net erger geraak.

(Klik op die ikone om meer te lees.)

Hoe die mediese skool gaan werk

 

Die beoogde mediese skool van die NWU sal as die NWU Mediese Skool bekend staan en sal die sesde skool in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe wees.

Prof Awie Kotzé is die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, waaronder die beoogde mediese skool sal val.

begin vorm aanneem

NWU se

MEDIESE SKOOL

“Die vergadering met die provinsiale amptenare was net nog ’n belangrike positiewe stap in die proses van die stigting van ’n unieke en hoogs gedifferensieerde nuwe mediese skool. Die skool sal in staat wees om groot en toenemende getalle professionele, bekwame mediese dokters te lewer met vaardighede wat gerig is op die gemeenskappe wat hulle bedien, en wat opleiding verskaf wat bekostigbaar sowel as volhoubaar is.”

 

- Prof Awie Kotzé, uitvoerende dekaan, Fakulteit Gesondheidswetenskappe