Die webinaar is deur ons mediesefondsmakelaar, 4D Health, in samewerking met NWU Welstand gereël en aangebied. Klik op die illustrasie hierbo om meer oor Covid-19-entstowwe uit te vind.

Sedert die Covid-19-pandemie uitgebreek het, is die sosiale media oorval met fopnuus oor hierdie siekte, waarvan die mees onlangse te doen het met die verskillende entstowwe wat ontwikkel is.

’n Eenvoudige soektog toon die vele samesweringsteorieë van diegene wat teen inentings gekant is (die sogenaamde anti-vaxxers) en die veiligheid en newe-effekte van die entstowwe bevraagteken.  Van hulle beweer selfs dat as jy die entstof neem, dit jou DNS kan verander of die regering in staat kan stel om ’n opsporingskyfie in jou liggaam in te plant.

 

Hoewel duisende gesondheidsorgwerkers in Suid-Afrika tot dusver ingeënt is, is daar steeds mense wat die fopnuus oor entstowwe glo. Aan die ander kant bevorder NWU Welstand ingeligte keuses.

 

Die departement het oor die afgelope jaar talle geleenthede en openbare lesings gehou om personeel en studente in te lig oor Covid-19 en die verskillende entstowwe wat ontwikkel is.

 

“Daar is soveel waninligting op sosiale en hoofstroommedia ten opsigte van Covid-19 oor die algemeen, en ook oor die entstowwe,” sê Bonita Maboeta, senior welstandspesialis. “Ons wil graag hê ons personeel en studente moet goed ingeligte besluite oor entstowwe neem, en by kundiges op die gebied oor die doeltreffendheid en veiligheid daarvan leer.”

 

Sy sê hulle sal voortgaan met hulle bewustheidsveldtog en wil almal aanspoor om deel te neem.

 

Kennis is mag

 

Prof Guy Richards, professor in kritieke sorg aan die Universiteit van die Witwatersrand, het onlangs by ’n inligtingswebinaar oor die verskillende Covid-19-entstowwe beklemtoon dat daar ’n beduidende aantal bewyse is dat entstowwe doeltreffend is.

 

Hoewel die Covid-19-entstowwe vinnig ontwikkel is vergeleke met ander entstowwe, is al die omvattende veiligheidskontroles wat deur die Amerikaanse en Europese gesondheidsowerhede vereis word, gevolg en voltooi.

 

Guy het die verskillende tipes entstowwe in besonderhede verduidelik, insluitende hoe hulle werk, asook hulle doeltreffendheid en veiligheid. Hy sê die publiek moet onthou dat die voordele daarvan om ’n entstof te neem baie swaarder weeg as enige moontlike risiko’s van die entstof self.

 

“Hoewel verpleegkundestudente en personeel nie gedwing kan word om die entstof te neem nie, is ’n aantal van hulle by die NWU reeds ingeënt,” sê dr Matsipane Molekodi, direkteur van die Skool vir Verpleegkunde op die Mahikengkampus.

 

“Ons as die Skool vir Verpleegkunde het ons deel gedoen om ons studente en personeel oor die entstof in te lig,” sê hy.

 

In tye soos hierdie waarin fopnuus die wêreld vol is, dra die NWU by tot ’n goed ingeligte burgery wat die verskil tussen feite en fiksie ken.

 

INENTING VIR

COVID-19:

kom ons neem ingeligte besluite