Kuns kan ons deur moeilike tye help

Dit is waarom NWU se Kganya Mbotshane vir haar jongste skilderprojek op portrette van vroue en die rol wat hulle in die samelewing speel, fokus.

Kganya by een van haar skilderye in die reeks “Setso-African Identity”.

In moeilike tye soos hierdie, met die Covid-19-pandemie wat die lewe onderstebo gekeer het, kan kuns ’n gevoel van vrede, eenheid en hoop bring.

Kunstenaar Kganya beskryf haarself as ietwat van ’n introvert. Sy gebruik haar kuns om met mense te praat en om stories te vertel.

“Ons gaan deur soveel fases in ons lewens en verhoudings – problematiese en moeilike tye – soos nou ook die koronavirus. Deur vroue uit te beeld wil ek hulle aanmoedig dat ons ook hierdie probleem te bowe sal kom,” sê Kganya, wat deel is van die kliëntediensspan by Mense en Kultuur.

Die begin van ʼn liefdesverhouding

Haar liefde vir die kunste, en veral vir skilderwerk, het begin toe sy op skool visuele kunste as vak geneem het. “Ek het eers ’n rukkie ophou skilder om daarop te fokus om in 2017 my graad in bedryfsielkunde en arbeidsverhoudinge op die kampus in Potchefstroom te verwerf.”

Kganya het daarna besluit om weer op haar kuns te konsentreer. Dit lewer nou dividende op. ’n Uitstalling van haar werk is in September 2019 in Klerksdorp en Johannesburg gehou.

“Ek beskou kuns nie net as ’n manier om ’n inkomste te verdien nie. Dis ’n taal waardeur ek met mense praat om ’n storie te vertel. Ek wil hê my kuns moet lewens verander en ’n impak in gemeenskappe en die samelewing as geheel maak.”

Vertel Afrika se stories

Kganya hou baie daarvan om skilderye te skep wat die kultuur en identiteit in die Afrika-omgewing uitbeeld, en fokus veral op kulture waaraan sy as Suid-Afrikaner blootgestel word. Getrou aan hierdie passie het sy vir haar eerste uitstalling die titel “Setso-African Identity” gekies (“setso” beteken “kultuur” in Suid-Sotho).

Sy hoop om haar kuns te gebruik om nie net gesprekke tussen mense aan te moedig nie, maar ook om hulle te inspireer om meer oor mekaar se kulture te leer, en om hulle wortels te waardeer, en te bewaar wat hulle geleer het.

“Ons is ’n nasie van baie kulture, waarvan sommige in die verlede nie heeltemal na waarde geskat is nie. Die meeste van ons jongmense word in ’n wêreld groot waar hulle niks oor hul afkoms geleer word nie, en hulle word ook nie geleer om trots te wees op wie hulle is nie,” sê sy.

Weet waar jou wortels lê

“Ons word meestal vasgevang in die jongste modes en in dit wat nou goed lyk. ’n Ou spreuk uit Afrika wat geslagte lank deurgegee is, is vir my en my werk baie belangrik. Dit lui iets soos die volgende: ‘Dit is noodsaaklik om te weet waarvandaan jy kom, omdat jy slegs dan sal weet waarheen jy op pad is’.”

Kganya sê sy hou daarvan om haarself in haar kuns uit te druk. “My kuns is die stem van wie ek is.”