Uitnemendheid kan moeilik wees om te definieer, maar maklik om te verstaan as dit in aksie gesien word. Die NWU se jaarlikse toekennings vir onderriguitnemendheid (TOU) word elke jaar gretig afgewag omdat dit erkenning gee aan die werklike rolmodelle wat vir ons almal ’n inspirasie is.

Die beste van die bestes is dr Deon van Tonder van die Fakulteit Opvoedkunde, wat tydens die toekenningseremonie op 12 Maart in Potchefstroom die gesogte Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid (TUOU) ontvang het. ’n Verdere 36 uitnemende dosente het regoor verskillende kategorieë toekennings ontvang.

Topdosent Deon is die adjunkdirekteur van die Skool vir Besigheid en Sosiale Studies in Onderwys en ’n senior lektor wie se navorsing op die professionele ontwikkeling van onderwysers fokus.

Hy is by kurrikulumontwikkeling van die BEd in verdere onderwys en opleiding, die honneurs in ekonomiese bestuurswetenskappe in onderwys, en onderrig en leer vir voor- en nagraadse studente betrokke. (Beweeg oor die Lees Meer-ikoon aan die linkerkant vir meer inligting oor sy onderrigfilosofie.)

Fakulteite wat die voortou neem

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het die meeste wenners opgelewer met agt toekennings elk, gevolg deur die Fakulteit Opvoedkunde met sewe toekennings.

Prof Linda du Plessis, adjunkhoof en adjunkvisekanselier vir beplanning en Vaaldriehoekkampusbedrywighede, het die wenners gelukgewens.

“Wanneer ons aan uitnemendheid in onderrig erkenning gee, doen ons baie meer as om akademici aan te moedig om aan ’n bepaalde standaard te voldoen,” sê sy. “Ons viering is ook ’n manier om ander te inspireer om waardering te toon vir wat dit verg om uitnemendheid te bereik.”

 

 

Die Amerikaanse voetbalafrigter Vince Lombardi het gesê: “Perfection is not attainable, but if we chase perfection we can catch excellence.” Dit is veral waar wanneer ons kyk na ons TOU-wenners, wat ’n buitengewone begrip van uitnemendheid het. By hulle is ’n paar lede van die senior bestuur, en die gasspreker by die toekenningseremonie, Rieta Ganas (voorste ry, reg in die middel). Rieta is ’n dosent en opvoedkundige ontwikkelaar by Wits Universiteit se Sentrum vir Leer, Onderrig en Ontwikkeling.

Laat uitnemende onderrig in aksie jou inspireer

Hierdie jaar se ontvanger van die NWU se Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid is dr Deon van Tonder.

Klik op die blokke hieronder om te lees wie al die wenners is, en om meer uit te vind oor die verskillende kategorieë en hoe die toekenningsproses werk.

“Onderrig is ’n spesiale roeping wat studente inspireer. Dit is ’n spesiale voorreg om iemand te lei om iets nuuts te ervaar en hul eie kritiese denke en kreatiwiteit te ontwikkel.” – Prof Linda du Plessis

Prof Linda du Plessis, adjunkhoof en adjunkvisekanselier vir beplanning en Vaaldriehoekkampusbedrywighede, verwelkom die gaste en die wenners by die seremonie.

In hierdie video vertel dr Deon van Tonder vir ons wat die Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid vir hom beteken.