Kom ons hou die ligte aan

Met die huidige beurtkragkrisis in Suid-Afrika is noodkragopwekkers ongetwyfeld van die belangrikste en mees gesogte toerusting in die land. Ongelukkig is dit ook duur om hulle aan die loop te hou.

 

eish! het vir Hendrik Esterhuizen, direkteur vir ingenieursvoldoening in die Fasiliteite-departement, gevra om ons meer te vertel oor die NWU se noodkragstelsel en die koste daaraan verbonde.

Hendrik Esterhuizen, die direkteur vir ingenieursvoldoening by Fasiliteite, moedig al die personeel aan om elektrisiteit spaarsaam te gebruik, veral wanneer ons op noodkrag funksioneer.

Klik op die blokke hieronder om meer oor lasbeheer en die verspreiding van  noodkrag op elke kampus uit te vind.

V: Wat is die belangrikste doel van die NWU se noodkragstelsel?

A: Die kernfunksie is om die belangrikste besigheidsfunksies van die NWU tydens beurtkrag of ’n algemene kragonderbreking aan die gang te hou.

Met ander woorde, ons wil graag die personeel en studente in staat stel om met hul daaglikse werk en studies voort te gaan, terwyl hulle in gedagte hou dat dit nie “sake soos gewoonlik” is nie, aangesien ons almal elektrisiteit moet bespaar terwyl ons op noodkrag is.

V: Wanneer het ons hierdie stelsel gekry en hoe doeltreffend is dit nou?

A: Die NWU se noodkragstelsel is tussen 2008 en 2012 ontwerp en in plek gestel.

Op daardie stadium was die noodkrag wat ons opgewek het voldoende vir elke kampus, maar omdat die kampusse mettertyd uitgebrei het en die geboue en gebruikers meer geword het, is dit beslis nie meer genoeg nie.

V: Wat doen ons as die vraag hoër as die beskikbare noodkragkapasiteit is?

A: In sulke gevalle moet ons hoëvlak-lasbeheer implementeer. Dit beteken dat die krag in sekere afdelings van ’n kampus afgeskakel word, of dat slegs genoeg krag verskaf word om kritieke areas aan die gang te hou.

Ons doen dit om seker te maak dat die kernbesigheid van die universiteit kan voortgaan. Met ander woorde, plekke soos lesinglokale, laboratoriums, eksamenlokale, eetsale en navorsingsgeriewe is ons prioriteite.

V: Hoe duur is dit om die kragopwekkers aan die loop te hou?

A: Die dieselkoste is ongeveer R40 000 per uur in Potchefstroom, R20 000 per uur in Mahikeng en R15 000 per uur in Vanderbijlpark. Altesaam is dit ’n yslike R75 000 per uur vir al drie kampusse.

V: Wat kan ons as personeel doen om die probleem te help verlig?

A: Een van die grootste uitdagings is om mense so ver te kry om hul energieverbruik te verminder, veral wanneer ons noodkrag gebruik. Dit is noodsaaklik dat almal moet onthou dat hierdie noodkragstelsel nie Eskom-krag of munisipale krag vervang nie. Almal moet hul energieverbruik verminder deur die verwarming- en lugverkoelingstelsels en nienoodsaaklike ligte af te skakel.

V: ’n Laaste woordjie van jou?

A: Beurtkrag gaan beslis vir nog ’n hele ruk deel van ons lewens wees, so kom ons doen elkeen ons deel om elektrisiteitsverbruik by die NWU te verminder en só seker te maak ons kernbesigheid floreer.

FOKUS OP