>

LEES MEER

>

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 



Abie is




nmmer

een











in die water

’n Dosent in biokinetika by die Skool vir Menslike Bewegingswetenskappe is as Suid-Afrika se kampioen in oopwaterswem gekroon. Abie van Oort se oorwinning tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Oopwaterswem-kampioenskap in Jeffreysbaai vroeër hierdie jaar is selfs meer merkwaardig omdat dit sy eerste podiumplek in oopwaterswem was.

Abie het die 3 km-kategorie vir swemmers in die ouderdomsgroep 30 tot 40 jaar gewen. “Ek het regtig nie gedink ek sal die goue medalje huis toe bring nie. Ek het geweet baie van die swemmers is ervare, en my grootste kompetisie was van sterk swemmers wat reeds voorheen podiumplekke verower het.”

 

Om teen die beste te kompeteer, kan vir minder ervare oopwaterswemmers* oorweldigend wees, maar dit het nie vir Abie afgeskrik nie en hy het alles vir hierdie kampioenskap in die stryd gewerp en die topposisie behaal.

 

Hy sê hoewel dit relatief maklik was om vir die kampioenskap te kwalifiseer, was dit baie moeiliker om sy pad na ’n wenposisie oop te swem. Abie moes vir die kampioenskap kwalifiseer deur ten minste een kwalifiserende tyd in die 3 km te behaal by ’n goedgekeurde oopwaterswemgeleentheid van Swem Suid-Afrika wat ná 1 Mei 2017 gehou is.

 

Dis ʼn familiesaak

 

Hoewel hy nog nie lank oopwaterswem beoefen nie, is swem nie vir Abie vreemd nie. As entoesiastiese swemmer het hy al 18 jaar se ervaring van swemgalas en het hy ook al aan nasionale swemkompetisies deelgeneem.

 

Hy sê dis gelukkig dat sy suster, Marike van Oort, sy afrigter is. Sy verstaan sy swemstyl en het hom gehelp om vir die kampioenskap voor te berei. Marike is die hoofswemafrigter by die NWU en is onlangs as die amptelike afrigter van Noordwes se provinsiale span aangestel.

 

Die voordele van nat word

 

Abie het agt jaar gelede by die NWU se swemspan aangesluit. “Swem het al baie vir my beteken. Dit het my geleer wat toewyding, vasberadenheid en selfdissipline is.” Hy is tans met sy PhD besig en sê hy probeer om hierdie waardes elke dag in sy werk en lewe toe te pas.

 

Swem is vir hom meer as bloot harde werk en talle ure in die swembad. Dit is ook pret en hy geniet elke oomblik daarvan.

 

*Oopwaterswem verskil van gala-kompetisies, wat gewoonlik in swembaddens en binnenshuis plaasvind. Oopwaterswem vind oor langer afstande in die buitelug in oseane, mere, riviere en damme plaas.

 

’n Groot glimlag om ’n groot oomblik te vier: Abie het in die 3 km-kategorie vir swemmers tussen 30 en 40 jaar geseëvier.

 

 

 

Dit is die goue medalje wat Abie huis toe gevat het nadat hy vroeër hierdie jaar die Suid-Afrikaanse Nasionale Oopwaterswem-kampioenskap in Jeffreysbaai gewen het.

 

 

 Abie weet nie hoe dit voel om net tweede of derde by die Suid-Afrikaanse Oopwaterswem-kampioenskap te kom nie. Hy het reguit tot heel bo geswem toe hy vroeër vanjaar die eerste plek by die kampioenskap behaal het.

 

 

Hulle durf ook die oop water aan

 

ʼn Paar NWU-studente het ook in hul ouderdomsgroepe aan hierdie jaar se Suid-Afrikaanse Nasionale Oopwaterswem-kampioenskap deelgeneem.

 

Nadia Blaauw is in die 3 km- tot 5 km-kategorie as kampioen gekroon.  Ander NWU-swemmers wat ook deelgeneem het, sluit Licinda Kleynhans (3 km), Danielle Luyt (3 km)Francois Snyman (3 km) en Reino von Wielligh (5 km tot 10 km) in.